Wes-Kaap moet regmaak vir vloede
2011-01-26 14:36
Kaapstad – Die Wes-Kaap moet gereed maak vir 'n moeilike winter wanneer swaar neerslae en vloede wat die noorde van die land teister, suid beweeg, het nasionale rampbestuur Woensdag gewaarsku.
"Dit (die vloede) gaan voortduur tot Mei en dan in Junie-Julie die Wes-Kaap tref," het Maphaka Tau, senior-bestuurder by die nasionale rampbestuursentrum, aan die portefeuljekomitee oor korporatiewe dienste gesê.
Tau het gesê die "Wes-Kaap-situasie is 'n bekommernis" en dat die provinsie se rampbestuur-strukture gewaarsku word om hulself "pro-aktief" voor te berei.
Dele van die Suid-Kaap kan ook geraak word.
Tau het gesê die ramp het sowat 70 lewens geëis en 8 000 huishoudings affekteer en dít het swakhede in regeringstrukture uitgewys.
Wes-Kaapse rampbestuur was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA