Wes-Kaap beveg dalk taalwet tot in hoogste hof
2012-02-07 08:05
Kaapstad – As die parlement die omstrede Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale in sy huidige vorm aanvaar, sal die Wes-Kaapse regering dit moontlik tot in die hoogste hof beveg.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van kultuur en sport, het Maandag gesê die wetsontwerp is in stryd met die gees en die letter van die Grondwet, en die DA-beheerde Wes-Kaapse regering is heeltemal daarteen gekant.
“Ek sal op die eersvolgende vergadering van die Wes-Kaapse kabinet voorstel dat die Wes-Kaapse regering dié wetsontwerp tot in die konstitusionele hof beveg as dit nie bevredigend verander word nie. Ek is baie seker daar sal geen probleem wees om die voorstel deur die kabinet aanvaar te kry nie.”
Meyer het gesê die wetsontwerp is in stryd met art.6 van die Grondwet, wat pariteit tussen tale waarborg. Omdat net een van die voorheen bevoordeelde ampstale (saam met twee voorheen benadeelde ampstale) luidens die wetsontwerp as voertaal in ’n provinsie gebruik mag word, dwing dit elke provinsie om tussen Afrikaans en Engels te kies.
“In die praktyk sal die wetsontwerp Afrikaans waarskynlik uitrangeer. Afrikaans is ’n gevestigde akademiese en ’n gefundeerde regstaal. Dié voorstel kom in die praktyk van die ANC, en ’n mens kan nie meer verbaas word deur hul jongste poging om die Grondwet te ondermyn nie.
“Maar die Wes-Kaap het, terwyl die nasionale ANC-regering sloer, sy grondwetlik opgelegde plig uitgevoer en al in 1998 ’n provinsiale taalwet, -beleid en -komitee vir die oplos van omstrede taalkwessies gestig – en dit funksioneer.
“Wat die gees van die Grondwet betref, is oudpres. Nelson Mandela ons voorbeeld. Hy het altyd ’n persoon se taalvoorkeur vasgestel en na die beste van sy vermoë met dié persoon in dié taal gekommunikeer – ook in Afrikaans.”
Gevra wat die Wes-Kaapse regering se belang by die wetsontwerp is, siende dat dit vir die kommunikasie van nasionale staatsdepartemente geld, het Meyer gesê dienslewering aan Wes-Kaapse kiesers sal geraak word, en die Wes-Kaapse regering sal in inwoners se belang optree.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger