Wes-Kaap: Tot 70 000 stem vandag
2010-07-21 08:18
Die Burger
Kaapstad - Meer as 70 000 geregistreerde kiesers in ses wyke in die Wes-Kaap kan vandag (Woensdag) hul kruisies in munisipale tussenverkiesings gaan trek.
Tussenverkiesings word in gebiede soos Khayelitsha, Philippi, Kruispad/Mandalay, Tafelsig (Mitchells Plain) en Beaufort-Wes gehou.
Die vorige raadslede in dié ses wyke is óf afgedank óf deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, geskors.
Luidens ’n verklaring van die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die ANC, Cope, die DA en die Pan Africanist Congress of Azania kandidate in wyke 34, 35 en 98 in die Kaapse metropool.
In wyk 99 het al dié partye behalwe Cope kandidate gestel.
Die plaaslike musiekkunstenaar D’Low is ’n onafhanklike kandidaat in dié wyk, wat onder meer dele van Khayelitsha en Mitchells Plain insluit.
In wyk 3 in Beaufort-Wes ding die ANC, DA, PAC, ’n onafhanklike kandidaat en Icosa om die setel mee.
Die ANC, DA, Icosa en die PAC het ook kandidate vir wyk 5 in Beaufort-Wes gestel.
Grant Pascoe, DA-leier in die metropool, het gesê sy party is realisties en doen wat hy kan om sy steunbasis uit te brei.
“Die ANC gaan nie maklik sy vier wyke in die metro afstaan nie en alles hang af van hoe hulle mense mobiliseer.
“Ons is nie vol vertroue dat ons daar gaan wen nie, maar strategies gaan dié tussenverkiesings vir ons ’n maatstaf wees vir ons vordering in aanloop tot volgende jaar se verkiesings. Hierdie verkiesing is ’n proeflopie en dit is belangrik ter voorbereiding vir volgende jaar.
“Ons gaan beslis nie net ons wonde lek ná môre (vandag) nie, maar begin werk vir volgende jaar.”
Peter Gabriel, hoofsweep van die ANC in die Kaapse stadsraad, het gesê die ANC kan al vier sy ou wyke wen.
“Ons steun is veral groot in Philippi en Khayelitsha,” het hy gesê.
Volgens Gabriel blyk dit uit die party se interaksie met die gemeenskappe dat kwessies oor behuising en werkloosheid veral uitstaan.
“Mense is ook bekommerd oor die sigbaarheid van die raadslid ná so ’n verkiesing.”
Stempunte sal van 7:00 tot 21:00 oop wees.
- Die Burger