Werksoek duur jare, toon opname
2013-01-30 16:00
Johannesburg – 'n Kwart van werklose mense in die land soek al langer as vyf jaar werk, toon 'n opname wat Woensdag vrygestel is.
"Die kanse om werk te kry nadat jy langer as vyf jaar sonder werk is, of nog nooit gewerk het nie, is skraal in 'n arbeidsmark wat baie lae en ongeskoolde werkers het, maar ervare en vaardige arbeid benodig," het Lucy Holbron, navorser van die SA Instituut vir Rasse-aangeleenthede (SAIRR) gesê.
Altesaam 4,5 miljoen mense is amptelik as werkloos geklassifiseer, omdat hulle graag wil werk en aktief besig is om werk te soek, het Holbron gesê.
Dié getal sluit nie die sowat 3,2 miljoen ontmoedigde werksoekers in nie.
"Al dít dui daarop dat daar baie groot getalle mense is wat eenvoudig net nie in diens geneem kan word nie."
Oplossings vir die probleem moet die voorsiening van opvoeding en vaardighede insluit om 'n beter pasmaat te skep vir wat die arbeidsmark soek en wat tans verskaf word, het Holbron verder gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA