Werklose skuldig weens melkman se moord
2011-12-02 09:00
Kimberley – ’n Werklose man wat ’n melk-afleweraar met ’n polisie-dienspistool in ’n voorafbeplande rooftog doodgeskiet het, is Donderdag in die hooggeregshof skuldig bevind aan moord en ander aanklagte.
Byna R10 000 se melkgeld is geroof.
Thomas Andrew Coetzee (26) van Phuthanang, Galeshewe, en ’n polisiebeampte het afgespreek om die twee melk-afleweraars te beroof, is in die hof getuig.
Waarnemende regter W. Hughes-Mdondo het Coetzee op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.
Coetzee het Patrick Mongezi Booysen van Hancor-melkery op 25 Oktober verlede jaar in sy rug, gesig en kop in die veld langs die pad na Barkly-Wes buite die stad geskiet en R9 149,45 geroof.
Coetzee het Frank Kubu in die regteroor gewond.
Coetzee het skuld op die aanklagte beken.
In sy pleitverduideliking sê Coetzee hy het konst. A. Sebone ’n paar dae vóór die moord by die landdroshof in Galeshewe ontmoet.
Sebone het by die landdroshof gewerk.
Die twee mans het na Sebone se huis geloop. Sebone het die kluis oopgesluit en ’n dienspistool en ammunisie uitgehaal. Hy het dit aan Coetzee oorhandig.
Sebone en Coetzee het afgespreek om die melk-afleweraars te beroof.
Vroeër het Coetzee valslik aan Booysen en Kubu voorgegee hy verkoop selfone.
Op 25 Oktober verlede jaar het Coetzee die melk-afleweraars in Roodepan ontmoet. Hy het gesê die selfone is in die veld buite die stad begrawe.
Op die aangewese plek aangekom, het Coetzee uitgeklim, die vuurwapen uitgehaal waar dit in die veld versteek was en op Booysen en Kubu gerig.
Hy het die melkgeld geëis.
Toe Kubu weghardloop, is hy in die regteroor gewond.
Coetzee het Booysen platgeskiet en die geld gevat.
Die moordenaar het terug na die landdroshof gegaan waar hy die geroofde geld aan Sebone oorhandig het. Sebone het hom R3 000 gegee.
Sebone is intussen ná ’n interne tugverhoor uit die polisie ontslaan. Die verhoor duur voort.
Adv. Tanya Birch kla aan. Adv. Johan Cloete tree namens Coetzee op.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad