Werkers by Marikana glo omgery
2012-11-15 16:47
Rustenburg – Bewyse sal voorgelê word om aan te dui dat sommige stakende mynwerkers op 16 Augustus deur polisievoertuie in Marikana omgery is, het die Farlam-kommissie Donderdag gehoor.
Adv. Dali Mpofu, wat die mynwerkers verteenwoordig, het gesê daar is bewyse wat dié bewering staaf.
"Daar is bewerings en bewyse dat sommige van die werkers deur njalas omgery is."
Die kommissie hou openbare verhore in Rustenburg as deel van ondersoek na die dood van 34 mynwerkers. Dié mynwerkers is doodgeskiet toe die polisie probeer het om stakende mynwerkers naby Lonmin se Marikana-myn in die Noordwes uiteen te jaag.
Mpofu het Donderdag ao. Patric Thamae, wat die misdaadtoneel gefynkam het, onder kruisverhoor geneem.
"Ek het nie spore van njalas aan die kant [waar die lyke was] gesien nie," het Thamae geantwoord.
Mpofu het hom ook gevra oor die instruksies wat die polisie ontvang het.
Thamae het gesê daar is aan die polisie gesê dat stakende werkers op die koppie sal vergader, hul wapens sal oorhandig en vreedsaam uiteen sal beweeg.
Die polisie sou dan die wapens nagaan.
"Die instruksies wat julle ontvang het, wat dit in geen stadium verander na die moontlikheid dat iets anders sal gebeur nie?" het Mpofu gevra.
"Nee," het Thamae gesê.
Kort voor middagete het die kommissie na beeldmateriaal van die toneel gekyk.
Die eerste video het begin met bloedkolle op die gras en skoene wat rondlê.
Bebloede lyke het in sommige plekke gelê en op een plek was verskeie lyke nader aan mekaar. Sommige van die beelde was baie grafies.
Op een van die lyke was 'n stok – die enigste sigbare wapen behalwe 'n hoop pangas en pale wat voor die verfilming deur die polisie ingesamel is.
Die verhoor duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA