Werker was 'geskok' oor Marikana-skietery
2013-01-24 14:06
Rustenburg – 'n Vakbondbeampte het vertel hoe geskok hy was toe hy nie nuus hoor dat die polisie 34 mynwerkers in Marikana doodgeskiet het.
"Ek het die nuus van die skietery op die radio gehoor. Ek was verbaas en geskok," het Erick Gcilitshana, die National Union of Mineworkers (NUM) se nasionale sekretaris oor gesondheid en veiligheid, aan die Farlam-kommissie van ondersoek in Rustenburg gesê.
Gcilitshana was die eerste getuie wat deur Num geroep is. Hy was die hoofonderhandelaar tydens die staking van mynwerkers by Lonmin se Marikana-myn in Augustus. Hy is ook 'n werknemer van Lonmin.
Adv. Geoff Budlender het hom gevra hoe hy reageer het toe hy die nuus hoor.
"Ek onthou nie baie goed nie. Ek kan onthou dat ons die maatskappy gebel het om te bevestig."
Op die vraag of hy enigiets gedoen het ná hy die nuus gehoor het, het hy "nee" geantwoord.
Gcilitshana sal volgende deur Schalk Burger, Lonmin se prokureur, ondervra word.
Die kommissie ondersoek die geweld waarin 44 mense tydens ‘n onbeskermde staking by die myn dood is.
Altesaam 34 stakers is op 16 Augustus doodgeskiet, terwyl 78 ander gewond is toe polisiebeamptes op hulle geskiet het om die stakers uiteen te jaag.
Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte, is die vorige week doodgekap.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA