Werker verdien jare lank salaris vir 'niksdoen'
2012-10-19 15:07
Johannesburg – ‘n Werknemer van die Ekurhuleni-munisipaliteit word die afgelope ses jaar al betaal om niks te doen nie, het ‘n koerant berig.
Sowetan berig Rejoice Marota daag elke oggend om 08:30 by Brakpan se munisipale kantore op. Sy lees, drink tee, eet middagete en keer dan om 16:30 terug huis toe.
Volgens die koerant het sy niks om by die werk te verrig nie, aangesien sy nie ‘n pos beklee nie.
Marota meen sy is in ‘n “waggroep.”
Luidens die berig het Marota ‘n bruto-salaris van R15 000 verdien en elke maand sowat R9 600 huis toe geneem.
Sy het ook sedert 2007 jaarlikse verhogings en bonusse gekry. Dít kos belastingbetalers sowat R1,8 miljoen.
Marota het aan die koerant gesê sy is gefrustreerd.
“Dis baie frustrerend om heeldag rond te sit en niks te doen nie. Maar ek kla nie dat ek betaal word nie...”
“Ek wag jare lank om aangestel te word, maar niks gebeur nie.”
Samuel Modiba, woordvoerder vir die Ekurhuleni-munisipaliteit, is daar nie so iets soos ‘n “waggroep” nie.
“Die werknemer is tans na die departement van finansies ontplooi. Die proses om ‘n alternatiewe posisie vir haar te verseker, duur voort en ‘n aantal opsies word oorweeg,” het hy aan die koerant gesê.
Volg Nuus24 op Twitter