Werker vas ná aanranding
2009-10-09 23:25
Rustenburg - Nóg ‘n werknemer van die plaaslike munisipaliteit in Rustenburg is in hegtenis geneem vir aanranding.
Senior supt. Kebaakae Metsi van die Noordwes-polisiedepartement het gesê Kabelo Nonyane (37) is Donderdag in hegtenis geneem nadat hy vir Jabulile Nxumalo na bewering gedurende 'n ANC-takvergadering in Robega aangerand het.
“’n Saak van aanranding is geopen en Nonyane sal na verwagting op 29 Oktober in die hof verskyn,” het sy gesê.
Nonyane is ‘n projek-koördineerder by die Rustenburgse munisipaliteit, terwyl Nxumalo ‘n raadslid by dié tak is.
Sy inhegtenisneming volg kort na dié van Nketu Matima, 'n koördineerder vir die 2010 Fifa Wêreldbeker.
Matima is Dinsdag in hegtenis geneem vir bedrog en die gebruik van 'n maatskappymotor sonder toestemming.
Matima het gesê die voertuig het aan die brand geslaan, maar die wrakstuk van die Opél Astra kon tot nog nie opgespoor word nie.
Die enigste bewyse dat die vermisde voertuig uitgebrand het, is Matima se foto's.
Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en sy saak is tot 14 November uitgestel.
- Sapa