Werker tronk toe wat boer moor
2011-05-17 20:04
Pietermaritzburg - ‘n Plaaswerker wat sy werkgewer doodgeskiet het, is Dinsdag vir effektief 20 jaar tronk toe gestuur deur die Hooggeregshof in Pietermaritzburg.
Jabulani Ngubane (35) het skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag. Die hof het hom egter skuldig bevind van die moord op die Cramond-boer Radash Anandlall (54).
Ngubane het beweer hy was op die plaas in verband met die betaling van lone, maar Regter Kate Pillay het gesê hy het geen rede gehad om ná donker daar te wees nie.
Volgens Ngubane het sy besoek Anandlall ontstel en ‘n geveg tot gevolg gehad. Ngubane het gesê hy het Anandlall se geweer gegryp en per ongeluk ‘n skoot, wat hom getref het, afgevuur.
Die boer is egter drie keer – in sy kop, in sy gesig en in sy been – geskiet.
Pillay het gesê daar was geen nood vir dié graad van geweld nie.
Sy het Ngubane 18 jaar tronkstraf opgelê vir moord en twee jaar vir roof met verswarende omstandighede. Hy is ook onderskeidelik drie en vier jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ammunisie en ‘n pistool. Dié twee terme sal samelopend met die 18 jaar gevangenisstraf uitgedien word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA