Wêreldfees ‘het die jongmense goed gedoen’
2011-03-05 07:46
Kaapstad. – Die presidensie het die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) se omstrede jeugmakietie gister verdedig en aangevoer dit het die land se jongmense goed gedoen.
“Die regering glo die fees was in belang van die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse jeug. Dit was ’n verhoog vir interaksie tussen jongmense, om kennis en idees oor ontwikkeling uit te ruil en om hul uitdagings met jonges van ander lande te deel,” het Collins Chabane, minister in die presidensie gemoeid met monitering en evaluering, gister gesê.
Dít is Chabane se antwoord op ’n parlementêre vraag van Anele Mda, Cope-LP, waarin sy gevra het op grond waarvan die regering die reuse-besteding aan verlede jaar se Wêreldjeugfees kan regverdig terwyl geld dringend benodig word vir jeugontwikkelingsprogramme.
Van belastingbetalers tot opposisiepartye en die vakverbond Cosatu was verlede maand woedend toe dit aan die lig gekom het dat die NYDA R100 miljoen bestee het aan die chaotiese fees in Desember in Pretoria waar jeugdiges die tyd met soenspeletjies en ’n gekuier verwyl het.
Andile Lungisa, NYDA-voorsitter en die ANC-jeugliga se onderleier, het agterna gespog dat die fees jeugdiges geïnspireer het en indirek ’n rol in die politieke onrus in Egipte en Tunisië gespeel het.
Chabane het gister gesê die presidensie, onder wie se voogdyskap die agentskap funksioneer, het nog geen stappe gedoen om dié geld te verhaal nie. Sy kantoor is besig om ’n verslag oor die fees te bestudeer en sal daarna kommentaar lewer.
Die volle koste van die fees en presies waaraan die geld bestee is, sal bekend gemaak word. Dit sal ook in die NYDA se verslag vir die 2010-’11-boekjaar verskyn en in die parlement ter tafel gelê word.
Besteding aan die NYDA was verlede week ook in die kollig toe Pravin Gordhan, minister van finansies, tot R1,22 miljard in die volgende drie jaar aan die agentskap bewillig het. Hul begroting is vyf keer groter as die R242 miljoen wat Trevor Manuel, beplanningsminister, in dieselfde tydperk ontvang om ’n nasionale visie vir die land te ontwikkel.
Die NYDA sal vanjaar R188 miljoen, byna die helfte van sy begroting van R386 miljoen, aan salarisse bestee. Steven Ngubeni, die NYDA se hoofamptenaar, se salaris beloop R1,8 miljoen per jaar. Dit is meer as wat ’n minister verdien.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld