Wêreld vier Mandela se bydraes
2010-07-19 06:39
Kaapstad - Nelson Mandela, Suid-Afrika se eerste swart president, het Sondag 92 geword terwyl die wêreld die eerste internasionale dag ter ere van hom gevier het.
Wêreldleiers was verenig in hul gelukwensings vir dié anti-apartheidsikoon en het hom geloof vir sy bydraes tot globale politiek en die stryd vir menseregte.
Die toenemend brose Nobel-pryswenner het die dag rustig saam met sy familie by sy huis in Johannesburg gevier.
“Dit gaan met hom goed - hy is gesond en in ag genome die soort lewe wat hy gelei het, is dit regtig verblydend... hy word oud, hy word broos, maar hy is absoluut gesond, lewenslustig en begeesterd,” het Graça Machel, sy vrou, aan die BBC gesê.
“Hy gaan ’n koek kry, sy familie sal om hom wees... ons sal tuis bymekaar kom, ons sal rondom hom sit en hom baie liefde gee,” het sy bygevoeg.
Die viering was egter nie net tot Mandela se tuiste in die woonbuurt Houghton beperk nie.
Gewone mense in Suid-Afrika en oorsee het hulself tot 67 minute diensbaarheid aan die gemeenskap gewy om die aantal jare wat Mandela aktief in die politiek was, te gedenk.
Die inisiatief word ondersteun deur internasionale figure soos die gewese Amerikaanse president Jimmy Carter en oudpres. Martti Ahtisaari van Finland.
Madiba se verjaardag is verlede jaar deur die Verenigde Nasies erken as “Nelson Mandela-wêrelddag” en is Sondag oor die wêreld heen gevier.
Bure het saamgedrom buite die hoë buitemure van Madiba se huis in die hoop om die ikoniese leier te siene te kry.
“Ek is al hier sedert 08:00. Dalk is ek gelukkig en sien hom,” het Jessy Martina gesê met ’n verjaardagplakkaat in hand.
Teen middagetenstyd het die meeste mense tou opgegooi om die geliefde leier te sien wat met die afsluitingsplegtigheid van die Wêreldbeker-sokkertoernooi verlede week ’n kort en ongewone openbare verskyning gemaak het.
“Nelson Mandela troon bo die res uit. Hy versinnebeeld die hoogste waardes van menslikheid en van die Verenigde Nasies,” het Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die VN, in ’n verklaring gesê.
“Nelson Mandela se prestasies het teen ’n groot persoonlike prys vir homself en sy familie gekom. Vandag, op die eerste Nelson Mandela-wêrelddag, bedank ons hom vir als wat hy vir vryheid, vir geregtigheid en vir demokrasie gedoen het,” het Ban vervolg.
Die VN vier die dag met verskeie aktiwiteite by sy sentrums oor die wêreld heen, van Afrika-lande soos Zambië en die Soedan tot in Kazachstan.
Gemeenskappe in die Soedan het voorberei vir ’n “Sokker vir Vrede”-toernooi in El-Fasher. Die wenspan sou die Nelson Mandela-trofee ontvang.
In Spanje is Sondagaand ’n 6,7km lange liefdadigheidstaptog in Madrid gehou om die dag te gedenk.
’n Rondetafel-bespreking oor die nalatenskap van Mandela sal in die Kazachstanse hoofstad Almaty gehou word. Dit sal opgevolg word deur ’n vertoning van die rolprent Invictus, wat op Mandela se rol in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 gegrond is.
- Sapa - AFP