Wêreld gons oor tiener se gru-verkragting
2013-02-07 07:15
Kaapstad – Die wrede verkragting en moord op 'n 17-jarige skoolmeisie in die Wes-Kaap het landwyd protes ontketen en ook die internasionale nuus gehaal, berig RSG.
Die nuusagentskappe BBC en Reuters en Voice of America en Global Post het oor die voorval berig.
Anene Booysen van Bredasdorp wat verkrag, aangerand en vir dood gelaat is, het die naam van een van haar aanvallers genoem voor sy in die hospitaal gesterf het. Die man, Jonathan Davids (22), is Saterdag in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag in die Bredasdorp-landdroshof op aanklagte van verkragting en moord verskyn. Die saak teen hom is tot Dinsdag uitgestel.
'n Dokter wat kennis dra van die noodoperasie wat Saterdagaand op haar uitgevoer is, het in besonderhede beskryf hoe haar onderlyf oopgekloof is, waarna iemand sy hande in haar gedruk en haar ingewande uitgeruk het. Die dokter het gesê hy maak dié inligting bekend omdat mense moet weet hoe wreed haar aanvallers is, berig Die Burger.
“Sy het ’n groot deel van haar ingewande verloor. Dis ook hoekom sy nie oorleef het nie,” het die dokter gesê.
Anene is Saterdag met ernstige beserings na 'n plaaslike hospitaal geneem nadat sekuriteitswagte by 'n bouterrein op haar afgekom het. Sy is later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy Saterdagaand gesterf het.
Nie-regeringsorganisasies en politieke partye – onder meer die ANC-vroueliga – eis geregtigheid. Die vroueliga sê seksuele misdade teen vroue en kinders is 'n nasionale skande is en dat die nasie moet saamstaan om te sê dat genoeg nou genoeg is.
– Volg Nuus24 op Twitter