Wending kom in Lindley-moordverhoor
2011-05-20 07:42
Bloemfontein - Die vermeende moordenaar van die Potgieter-gesin van Lindley wat Donderdag skuld op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede sou beken, het van plan verander en verskyn nou weer Maandag saam met sy vyf vermeende makkers op dié aanklagte in die Vrystaatse hooggeregshof.
Toe Vusi Khumalo (22) Donderdag voor regter A. Kruger gevra is hoe hy pleit, het hy op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede skuld beken.
Op aanklag of hy Attie Potgieter (40) op 1 Desember verlede jaar op sy plaas Tweefontein vermoor het, het hy skuld ontken, wat teenstrydig is met ’n skriftelike pleitstuk wat vroeër volgens sy opdrag opgestel is.
Hy is nie verder gevra om te pleit op die aanklagte van moord op Wilna Potgieter en haar dogtertjie, Willemien (2), nie.
Sy verhoor is Dinsdag van dié van die ander voor regter G.F. Wright geskei, nadat hy gesê het hy wil op al drie die moordaanklagte skuld beken. Regter Kruger het sy verhoor tot Maandag uitgestel sodat hy weer by sy medebeskuldigdes op dieselfde aanklagte voor regter Wright gevoeg kan word.
Sunette Kruger van die Regshulpraad het haar gister as sy regsverteenwoordiger onttrek en iemand anders sal nou vir hom optree.
- Volksblad