Weldoener se 'vlug na vryheid'
2011-01-16 06:23
Johan Eybers in Howick en Karin Burger en Colin Hendricks in Kaapstad
Johan Eybers in Howick en Karin Burger en Colin Hendricks in Kaapstad
Tafelberg was vir Rob Taylor die spirituele middelpunt van sy heelal – maar Howick in KwaZulu-Natal was waar hy die geld gemaak het sodat hy die lewe van ’n barmhartige Samaritaan kon lei.
KaapRapport het die stukke van die legkaart van dié geheimsinnige weldoener se lewe bymekaar gaan voeg.
Aan KaapRapport is vertel dat Taylor voor sy opspraakwekkende Tafelbergse doodsprong verlede Sondag briesend was vir die karwagte aan wie hy ’n Audi R8 van R2 miljoen geskenk het. Dit was juis dié geskenk wat oornag van Taylor ’n nasionale enigma gemaak het.
“Rob het ’n obsessie met die berg gehad,” het ’n Kaapse vriend vertel op voorwaarde dat sy naam nie gebruik word nie.
“Hy het dan ook die Audi vir die berg gegee – die karwagte moes net na die motor kyk. Sy idee was dat enigeen wat teen die berg wou opgaan, die motor kon gebruik.
“Hy was baie kwaad toe hy hoor die Audi is nie meer op die berg toe.”
Die eiendomsontwikkelaar, wat in April 62 sou word, het verlede Sondag sy arms uitgestrek en van die berg afgespring. Die getatoeëerde engelvlerke op sy arms – die embleem van Taylor se valskermklub, Angel Sky – was duidelik sigbaar.
Sy vriendekring sê dit was nie selfmoord nie, eerder ’n sprong wat vir hom ’n ondervinding “buite sy liggaam en verstand” moes gee.
“Rob het meer as ’n jaar lank dié beslissende sprong beplan,” vertel ’n vriend. “Hy het ’n spirituele mens geword. Rob sou nie wou hê mense moet dink hy het selfmoord gepleeg nie.”
Taylor was ’n entoesiastiese valskermspringer en het etlike vliegtuie en helikopters besit.
Ook in Howick het dit die afgelope week gegons oor Taylor se lewe en doodsprong. Taylor het hier sy fortuin gemaak deur die ontwikkeling van 1 600 huise ter waarde van sowat R1,5 miljard.
Sommige inwoners bespiegel maniese depressie – of dat mense hom bloot finansieel en emosioneel leeg getap het.
“Daar was heeltemal te veel mense wat te veel van Rob verwag het. Hy het omtrent die helfte van Howick aan die gang gehou met sy eiendomsontwikkelings,” het Roz Marais van die Free Me-dierebeskermingsvereniging – wat deur Taylor op die been gebring is – gesê.
“Iemand moes dalk meer tyd vir Rob gemaak het. Dan sou hierdie tragedie nooit gebeur het nie.”
Barry Williams, ’n vlieënier en jare lange vriend, stem saam.
“Dit het nie vir Rob oor geld gegaan nie. Die enigste rede waarom hy voortgegaan het om eiendomme te ontwikkel, was om werk te bly skep vir sy kontrakteurs en werkers.
“Howick is vol verhale oor mense wat deur Rob gehelp is... Hy het uit sy hart uit gegee. Rob het vereis dat mense stilbly oor wat hy vir hulle gee. Ek glo hy het in die geheim miljoene rande weggegee.”
Volgens Williams was Taylor afsydig om homself te beskerm teen mense wat hom wou uitbuit.
By die Angel Sky-valskermklub, wat Taylor twee jaar gelede begin het, is ’n gedenkhoekie ingerig met ’n foto van Taylor en die boodskap: “Blue skies, Rob. We will miss you!”
Mnr. Ray Steemson, mede-eienaar van Angel Sky, sê: “Rob was versot op die bevrediging en die gevoel van vryheid wat valskermspring meebring. Hy wou dit met almal deel.”
Steemson se kollega, Vernon Klopper, sê Taylor se dood was ’n persoonlike vlug na vryheid.
“Rob was geweldig geestelik. Ons glo hy het weggevlieg op ’n geestelike reis met vlerke gemaak van sy eie geloof.
“Sy leuse was om nooit die lewe te vrees nie,” sê Klopper. Dié leuse was ook geverf op Taylor se winkel in die Kaapse middestad.
In Kaapstad vertel Taylor se vriende het hy benewens die Audi ’n vliegtuig aan ’n onbekende persoon geskenk. Hy het twaalf Vespa-bromponies aan sy vriende gegee.
Toe hy op straat van sy skootrekenaar beroof is, het hy die volgende dag die boef opgespoor om vir hom die batterylaaier te gee.
Taylor was blykbaar in die moeilikheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens omdat hy verlede jaar glad nie belasting wou betaal nie.
“Rob was woedend vir die regering en het gesê hulle is nie vír die mense nie. Hy wou nie vir Zuma en Malema se partytjies betaal nie.”
Taylor se liefde vir spoed was algemeen bekend en hy het in ’n stadium 22 spogmotors besit. Al sy motors en sy Vespa was óf silwer, óf swart. Silwer was volgens hom die kleur van engele en swart was “die kleur van die gebrek aan kleur”.
Taylor het in Maart 2010 teruggekeer na Howick om weer “te gaan geld maak om weg te gee”.
* Die Angels Way-trustfonds dagvaar nou die Audi-handelaar in die V&A Waterfront waar Taylor verlede jaar die Audi R8 gekoop het. Die motor was in die naam van die trust geregistreer.
Volgens Terry Aupiais, ’n sakevennoot van Taylor, mag die motor nooit verkoop geword het nie.
Die agt karwagte het die vuurwa aan die agentskap terugverkoop nadat Taylor dit aan hulle geskenk het. André Pepler, Audi se prokureur, sê hulle gaan die hofaansoek teenstaan.
- Rapport