Wegraping: Volgelinge moet vir gelag betaal
2011-05-23 09:10
Johannesburg - ’n Stewige hotelrekening wag op ’n groep mense wat geglo het die einde van die wêreld sou Saterdag aanbreek.
Johannes Coetzee, wat die land van hoek tot kant deurkruis het om te verkondig die eindoordeel sou Saterdag met sonsondergang aanbreek, asook 80 van sy volgelinge het Sondag laatmiddag steeds in die Devonshire-hotel in Braamfontein, Johannesburg, gebly.
Coetzee het met Volksblad se besoek aan die hotel geweier om met enigiemand te praat. Hy het ook nie sy selfoon beantwoord, of op boodskappe gereageer nie.
Volgens Shaun O’Reilly van die hotel se menslikehulpbronne-afdeling het die groep 50 kamers bespreek en beset. Hulle het blykbaar nog nie die hotelbestuur laat weet wanneer hulle van plan is om uit te trek nie.
Hulle sal wel derduisende rande aan die hotel verskuldig wees.
O’Reilly kon Sondag nie sê hoeveel die groep sover aan verblyfkoste skuld nie.
Na verneem word, kos ’n enkelkamer (sonder maaltye) by die hotel R689 per nag en ’n dubbelkamer R1 178.
Coetzee, oorspronklik van Nelspruit, bly sedert Vrydag daar.
Hy het Vrydag die laaste keer foto’s op sy Facebook-profiel gelaai en het daarna nog nie weer enige woord oor die Oordeelsdag gerep nie.
Dié bladsy het Sondag talle boodskappe gehad van mense wat simpatie met hom het, maar ook van mense wat spottenderwys na hom verwys.
“Johannes, jy kan maar nou uit jou skuiling klim, die gevaar is verby,” het Daan Prinsloo gesê.
Jan Viljoen het gesê: “Johannes, praat met Facebook. Ons hoor graag van jou.”
Selfs Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, het ’n stuiwer in die armbeurs gegooi en Vrydag aan Sapa gesê: “Ek sien nie dat ons die mag wat ons vandag gekry het, môre gaan verloor nie.”
Op Twitter het dit gegons van die grappe.
Coetzee het vroeër gesê ’n aardbewing sou die aarde met sonsondergang in elke land tref, waarna God se uitverkore volk weggeraap sou word.
- Volksblad