‘Wees toegeeflik met swart matrieks se vraestelle’
2010-12-02 06:53
Johannesburg – Die ongelykhede in onderwys duur steeds voort en dit is onredelik om swart matrikulante aan die “barbaarse apartheid-eksamenstelsel” te onderwerp.
So het Mbuyiseni Mathonsi, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) se provinsiale sekretaris in KwaZulu-Natal, gister uitgevaar.
Luidens ’n artikel eergister in Sowetan het Mathonsi versoek dat nasieners swart matrikulante se vraestelle met ’n ligter hand nasien.
Dit het ’n storm in onderwyskringe ontketen.
Mathonsi het aan Beeld gesê daar moet in die onderwys met die erfenis van apartheid omgegaan word soos wat regstellende aksie byvoorbeeld op ander terreine toegepas word.
Sy uitgangspunt is dat die “Afrika-kind” die meeste benadeel is en nie op dieselfde vaste grondslag as ander begin nie omdat hulle onder meer in ’n “vreemde taal” onderrig word.
Voordat ’n swart kind kan begin om enige inhoud in ’n vak te bemeester, moet hy eers Engels bemeester. Daarbenewens kry hulle onderrig in skole met onvoldoende hulpbronne soos laboratoriums en biblioteke, het Mathonsi gesê.
Hy meen nasieners behoort al dié faktore in ag te neem wanneer hulle swart kandidate se antwoordstelle nasien.
Hy het te velde getrek teen die “barbaarse apartheid-eksamenstelsel waar daar net een regte antwoord kan wees”.
Nasieners moet ’n verskeidenheid interpretasies in ag neem en “hulle in die swart leerling se skoene plaas en eerder probeer vasstel wat hy of sy in sy moedertaal wou sê as om iets net verkeerd te merk”.
Mathonsi meen om die speelveld gelyker te maak, behoort alle vraestelle ook in Afrika-tale beskikbaar te wees.
Die departement van basiese onderwys en Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, het dit in verklarings duidelik gemaak dat geen faktore wat ’n impak op leerlinge se prestasie kan of nie kan hê nie in die nasienproses in ag geneem kan word nie.
Dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het gesê nasieners moet in die raamwerk van ’n memorandum nasien. Die memorandum stel die standaard waaraan alle leerlinge beoordeel moet word. “Dit is nié vir nasieners om te besluit om toegeeflik of nie te wees nie.”
Oor die taalkwessie het Rakometsi gesê leerlinge wie se huistaal ’n Afrika-taal en nie Afrikaans of Engels is nie, kry tans ’n 5%-kompensasie by die punte wat hulle in ’n vak behaal.
Hy het voorts gewys op Umalusi se standaardiseringsproses waar punte aangepas kan word indien dit nodig is. Dit vind ook in ooreenstemming met bepaalde regulasies en riglyne plaas.
Die onderwysdepartement het gesê me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, oorweeg dit geensins om gr. 12’s se uitslae aan te pas nie.
Sy het ook nie die mag of meganismes om dit te doen nie. Dit is uitsluitlik die mandaat van Umalusi, wat moet verseker die uitslae is geloofwaardig.
Luidens die verklaring het die departement deurlopend gewerk om die integriteit en geloofwaardigheid van die eksamen te verseker.
“Die departement wil alle Suid-Afrikaners verseker dat die uitslae ’n ware weerspieëling van kandidate se prestasie sal wees.”
Nee vir Sadou-idee
Prof. J.P. Rossouw, onderwysregskenner aan die Noordwes-Universiteit, meen die probleme wat in onderwys ondervind word, kan nie in die nasienproses reggestel word nie.
Die onderliggende probleme is volgens hom ’n gebrekkige kultuur van onderrig en leer wat kenmerkend van alle wanfunksionele skole is.
Tweedens het onderrig nie vanjaar in skole plaasgevind waar onderwysers gestaak het nie. Deur hul gewelddadige gedrag het hulle enige respek wat nog bestaan het, afgebreek. Sy oplossings is:
* Die uitweer van politieke agendas en ideologieë wat dienslewering verlam.
* Departementele amptenare moet hul energie en tyd bestee aan wanfunksionele skole.
* Intimidasie deur onderwysers moet binne die raamwerk van die wet gestraf word.
* Onderwys behoort ook as ’n noodsaaklike diens verklaar te word.
Volg Beeld Op Twitter.
- Beeld