Wees bang, dreig Zuma vrot kamerade
2009-08-17 06:29
Charles Smith
Die ANC gaan van nou af sy vrot appels polities verwyder. Hy gaan nie meer wag vir ’n regsproses om met politici en amptenare wat droogmaak, af te reken nie, het pres. Jacob Zuma die naweek bekend gemaak.
Zuma het in Bloemfontein verskeie stappe bekend gemaak hoe die ANC van nou af korrupte en lui kamerade gaan uitvang en in die pad gaan steek.
’n Hulplyn word volgende maand in die presidensie ingestel. Mense gaan ’n direkte lyn hê om hom in te lig waar dinge verkeerd loop. “Ons gaan begin om dinge te doen. Ons gaan nie wag nie.”
Zuma sal self onaangekondigde besoeke aan dorpe bring. Vrot appels sal gedwing word om hul eie bedankingsbriewe te skryf.
Zuma het vroeër in die stadsaal aan minderheidsgroepe gesê hy het “energieke mense” aangewys om misdaad te beveg. Die dae dat die regte van slagoffers minder gewig dra as dié van misdadigers is getel.
“Mense kan nie iemand vermoor en dan aandring op sy regte kragtens die Grondwet nie. Wat van die mens wat dood is?”
Later die dag het hy gesê as die president, ’n minister, premier, burgemeester of raadslid probleme veroorsaak, gaan die ANC nie vir ’n regsproses wag nie. Niemand is deur ’n regsproses aangestel nie.
“Die ANC het hulle aangewys en aangestel. Die ANC het dus die reg om hulle te verwyder.”
Aan diegene wat agter regsgronde skuil, sal die ANC ’n brief dikteer wat lui: “Ek, Jacob Zuma, het op my eie besluit om te bedank.”
Regstappe sal gedoen word teen diegene wat weier. Maar die feit dat regstappe gedoen word, sal aandui dat dié comrade nie meer deel is van die ANC nie, het hy gesê.
Elke ANC-lid – hy inkluis – gaan voortaan geëvalueer word. Diegene wat nie presteer nie, gaan “polities verwyder word”.
“Ons moet politieke verantwoordelikheid begin aanvaar vir diegene wat nie wil presteer nie en dié wat wel wil, sal ingebring word. “Ons wil ’n nuwe kultuur in die regering skep – ’n kultuur van dienslewering, van mense wat hard werk om die mense te dien.”
Zuma het reeds begin om gebiede sonder vooraf kennisgewing te besoek. Wanneer gevind word dat amptenare nie hul werk doen nie, gaan daar opgetree word. “Dit is so goed soos korrupsie.”
“Ons gaan ook die probleem van korrupsie aanpak. Van nou af gaan daar nie slegs op die voorgeskrewe prosedures staatgemaak word nie. Ook nie op regsgronde nie. Ons gaan politieke stappe begin doen.
“As klagtes op dowe ore val, bel die hulplyn in die presidensie. Daar sal geen hindernisse soos verlore verslae wees nie. Praat reguit met Pretoria sodat ons probleme kan oplos. Ons in die regering moet bang wees.”
-Die Burger