Weermag waarsku soldate
2009-09-04 15:05
Pretoria – Die weermag sal nie gyselaar gehou word deur oproerige soldate nie, het lt.genl. Solly Shoke, hoof van die leër, gesê.
Shoke het aan die media gedurende ‘n inligtingsessie by ‘n weermag se opleidingskollege in Pretoria gesê dat verlede week se betogings kontrakbreuk, sowel as ‘n duidelike geval van muitery was.
“Dit is ‘n jammerte dat hulle optrede ander soldate in die skande steek.”
Omtrent 2 000 van die soldate wat verlede Woensdag deelgeneem het aan die protesoptog, het afdankingsbriewe ontvang.
Alhoewel protokol gevolg sal word, weier hy om verder met die vakbonde te onderhandel.
“Ek onderhandel nie.
“Ek is ‘n kommandeur en ek sal ‘n magsbesluit neem.
“Geen weermag in die ganse wêreld sal onderhandel met ‘n ongedissiplineerde soldaat nie.”
“Ek sal nie met soldate onderhandel wat hulle skuldig maak aan slegte dissipline nie,” het hy gesê.
- Sapa