Weermag veg om finansiële oorlewing
2010-05-05 07:04
Kaapstad – Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het gister gekla oor die begrotingsknyptang waarin die weermag homself bevind.
Tog het sy steeds salarisverhogings vir soldate en pensioenvoordele vir veterane van Umkhonto we Sizwe en Apla aangekondig.
Sy het in haar begrotingsrede in die parlement gesê die weermagbegroting is hopeloos onvoldoende.
Geld word nou van die vloot na die leër hertoegewys, en die weermag is ook “te huur” aan ander staatsdepartemente vir ’n alternatiewe inkomstestroom.
Die weermag se begroting van ongeveer R36 miljard beloop sowat 1,3% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) – ’n tekort van sowat R17 miljard. Die Wêreldbank beveel aan verdedigingsbegrotings moet nie minder as 2% van BBP wees nie. Sisulu het gesê die situasie is benard, onaanvaarbaar en moet beredder word.
“Ons het onlangs twee brûe by Covimvaba vir die departement van openbare werke gebou en ’n blink taak verrig. Die geld wat ons daar verdien, word in ons begroting oorbetaal,” het sy gesê.
Genl. Godfrey Ngwenya, hoof van die weermag, het bevestig geld word van die vloot aan die leër hertoegewys. “Die leër is tans ’n verleentheid. Dis egter nie asof die vloot en lugmag in ’n beter toestand is nie – daar gaan dinge ook maar beroerd.”
Sisulu het wel enkele verbeterings beding. Die eerste pensioenbetalings aan veterane van voormalige nie-statutêre magte sal op 15 Mei gedoen word. Voorts sal salarisverhogings aan sekere posvlakke betaal word, en vanaf Julie sal sommige lede onder die beroepspesifieke bedeling val.
David Maynier (DA) het gewaarsku die minister se planne rondom nasionale diensplig en die toenemende besteding aan personeel dreig om die weermag in ’n gewapende welsynsorganisasie te verander. Hy het Sisulu gelooi oor haar oënskynlike gebrek aan deursigtigheid en gesê sy loop die gevaar om in ’n “moderne Magnus Malan” te verander.
LP’s se gebrek aan insig oor wat werklik in die weermag aangaan, is volgens Maynier te wyte aan haar weiering om oop kaarte te speel. Die parlement weet ná amper ’n jaar steeds nie wat die werklike vlak van paraatheid is nie, het hy gesê.
Intussen het Themba Godi, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), gister gesê Sisulu se uitbarsting oor hoe hulle haar behandel het ná sy verskeie kere nie vir hul vergaderings opgedaag het nie, was ’n nietigheid. Skoor teiken nie enige ministers nie en doen bloot sy werk sonder enige voortrekkery en vrese, berig Rajaa Azzakani.
Dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep, gaan ’n vergadering tussen Godi en Sisulu belê sodat die kwessie opgelos kan word.
- Die Burger