Weermag, polisie sal orde handhaaf by ANC-eeufees
2012-01-03 18:04
Bloemfontein – Die weermag en die polisie sal hierdie week 'n wakende oog hou oor gebeure by die ANC se eeufees in Mangaung, het die party Dinsdag gesê.
Die omvang van dié gebeurtenis en die feit dat buitelandse leiers teenwoordig sal wees, maak dit vir die ANC se eie veiligheidspersoneel onmoontlik om dit self te hanteer, het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, gesê.
"Die regering werk saam en die weermag en polisie sal gereed wees."
Volgens plaaslike media sal toegang tot die lugruim om Bloemfontein tussen 5 en 10 Januarie streng beheer word. Lugverkeer sal na verwagting heelwat hoër as gewoonlik wees.
Mthembu het gesê die ANC is gelukkig met sy voorbereidingskomitee se planne vir die eeufees.
Die viering begin Vrydag.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA