Weer hou Buchan weg by optrede
2010-11-09 11:00
Die Burger
George - Die prediker Angus Buchan gaan nie meer Dinsdagmiddag by die dankseggingsgeleentheid by Outeniquapark in George optree nie.
Andre Barnard, een van die organiseerders, het dit Dinsdagoggend aan Die Burger bevestig.
Barnard het gesê Buchan sou met 'n ligte vliegtuig van Greytown in Kwazulu-Natal na George gevlieg het.
Die vlieeniërs het egter nie kans gesien om in die weersomstandighede na die Suid-Kaap te vlieg nie. Reën word voorspel en dit kon onveilig wees om sulke omstandighede te vlieg.
“Dit het nie gegaan om die vertrek daarvan af nie, maar om die terugkeer gegewe die weersomstandighede wat voorspel word,” het Barnard gesê.
Buchan se seun, Andy, het Barnard Dinsdagoggend persoonlik gebel en om verskoning gevra vir enige ongerief.
Barnard het benadruk die geleentheid gaan voort.
Ander reëlings is inderhaas getref. Buchan het reeds 'n DVD-opname met 'n boodskap gemaak en dit sal betyds in George wees om op 'n reuse televisieskerm in die stadion vertoon te word.
Barnard het gesê hy het met vlieeniërs in George gepraat en hulle stem saam, dat dit onveilig kon wees om sulke omstandighede met so 'n vliegtuig te vlieg.
Barnard het gesê hy aanvaar die verskoning.
Die hekke open steeds om 12:00 en die res van die program gaan voort wat om 14:00 begin.
Elvis Blue, wenner van die Idols-sangkompetisie en inwoner van George, sal steeds optree.
- Die Burger