Weer hof toe oor 'Pretoria'
2009-09-16 14:53
Pretoria – Die Tshwane metroraad vat die Vryheidsfront Plus hof toe in die voortslepende stryd oor Pretoria se naamsverandering na Tshwane.
Conrad Beyers, die party se verteenwoordiger in die Tshwane metroraad, het gesê die raad het van die hooggeregshof versoek om ‘n interdik teen hulle nietig te verklaar.
Die interdik, wat in 2007 uitgereik is, het die raad verbied om tekens en borde op te sit wat na Pretoria as Tshwane verwys.
Die raad soek toestemming om “City of Tshwane” tekens by verskeie ingange na Pretoria op te sit.
Die saak word die 6de Oktober in die hooggeregshof gehoor.
“Die plaaslike ANC se vyandige houding teenoor Afrikaner-erfenis is in direkte kontras met president Jacob Zuma se houding van versoening teenoor Afrikaners,” het Beyers gesê.
“Die VF Plus het al op verskeie geleenthede gesê hulle is bereid om tot ‘n skikking te kom wat die kwessie betref.
“Dit is egter duidelik dat die plaaslike regering konfrontasie verkies,” aldus Beyers.
“Dis ‘n ou taktiek van die ANC om te begin name verander om die aandag van die land se finansiële krisis af te lei.”
Hy sê dat hulle wel besef hoe belangrik dit is om naamborde in plek te hê voor 2010.
“Die VF Plus wil ook hê daar moet naamborde by die verskeie ingange tot Pretoria wees.
“Die borde moet egter lees “Pretoria” en nie “City of Tshwane” nie,” het hy gesê.
- Sapa