Waterwese kort R70 miljard
2009-09-29 16:28
Kaapstad – Suid-Afrika benodig meer as R70 miljard om sy infrastruktuur vir die verskaffing van water te verbeter, het Buyelwa Sonjica, minister van omgewingsake en waterwese, Dinsdag gesê.
Sonjica het by die bekendstelling van die Maquassi Hills-watervoorsieningsprojek in die Noord-Wes gepraat.
Sy sê vyf sulke projekte is in die afgelope drie jaar in dié provinsie van stapel gestuur, maar dit kom teen ‘n prys.
"Die begroting wat aan my toegeken word kan lyk na baie geld, maar dit is net ‘n klein gedeelte van die koste wat sulke infrastruktuur beloop. Ons doelwit oorskry R70 miljard,” het Sonjica gesê.
Volgens haar is infrastruktuur, en die bestuur daarvan, ‘n belangrike element van die verskaffing van waterdienste.
Sy sê ‘n verdere 23 projekte is tans in die konstruksiefase, terwyl 11 ander wag op tenders. 'n Verdere 47 projekte sal waarskynlik goedgekeur word.
“Die infrastruktuur-ontwikkeling vir die verskaffing van water in grootmaat is in sy derde jaar, maar sal onderhou moet word tot die meeste van die grootmaat infrastruktuur-behoeftes aangespreek is,” het Sonjica gesê.
- Sapa