Gauteng-water: Sonjica wil dieper grawe
2010-10-22 13:37
Kaapstad – ‘n Span wat deur die regering aangestel is het ‘n verslag oor die dreinering van suur mynwater saamgestel, maar die verslag sal nog nie aan die publiek bekendgemaak word nie, het amptenare Vrydag gesê.
Die span het Donderdag met die ministers van water en omgewingsake, Buyelwa Sonjica, en van minerale hulpbronne, Susan Shabangu ontmoet, het hul departemente in ‘n gesamentlike verslag gesê.
Die ministers is op ‘n inter-ministeriële komitee vir die dreinering van mynwater, wat beskryf word as die grootste dreigement vir die omgewing in Suid-Afrika.
Die kenners is aan die begin van September aangestel, ná ‘n kabinet-mandaat aan Sonjica.
Vrydag se verklaring sê dat die ministers ná ‘n voorstelling en besprekings vir die span gevra het om meer opsies te ondersoek om die probleem op te los, sowel as om na hul koste-implikasies te kyk.
Die ministers sal dan weer met die kenners ontmoet “en kyk na ‘n manier om die kwessie vorentoe te neem.”
“Verdere korrespondensie en die vrystelling van die verslag sal ná die tweede vergadering tussen die komitee en die kenners volg,” het die verklaring gelui.
Dreinering van suur mynwater raak die Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Vrystaat provinsies.
Dit is ‘n gevolg van die oksidasie van sulfaat-minerale wat in ‘n myn blootgestel word, of wat in stof in ondergrondse skagte en tonnels teenwoordig is.
As gevolg van die suurinhoud los rotsmateriaal in die water op en kan dit ‘n verskeidenheid giftige metale bevat.
Kommer is uitgespreek oor die stygende vlak van suur mynwater onder Johannesburg.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA