Waterkloof-2 nog in tronk
2011-12-16 07:36
Pretoria – Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk, eens deel van die sogenaamde Waterkloof- vier, se tasse was Donderdag gepak om huis toe te gaan nadat hul vonnisse in korrektiewe toesig omgeskakel is.
Maar hul, en hul gesinne, se vreugde was van korte duur toe die departement van korrektiewe dienste hulle in weerwil van ’n hofbevel nie Donderdagmiddag vrygelaat het nie. Hulle het gisteraand weer in die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan geslaap.
Streeklanddros Peet Johnson het gisteroggend ’n aansoek van die Zonderwater-paroolraad: korrektiewe dienste om die twee se tronkstraf na korrektiewe toesig om te skakel, toegestaan. Die hele proses is deur die twee se regspan geïnisieer.
Tiedt en Van Schalkwyk is in Augustus 2008 saam met Christoff Becker en Frikkie du Preez tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding op ’n hawelose man, en die moord van ’n ander.
Die omskakeling het gevolg nadat vele onderhoude met die twee, tronkpersoneel en ander rolspelers bevestig het dat Tiedt en Van Schalkwyk intense en opregte berou het en dermate gerehabiliteer is dat gevangenisstraf nie meer nodig is nie.
Hulle is in verslae as “model-gevangenes” beskryf.
Johnson het verwys na die verhoorsaak.
“Dit blyk dat daardie hof nie baie vleiende woorde vir julle gehad het nie. Sedertdien het baie jare verloop,” het hy gesê.
Hy het verduidelik die verskeie goeie motiverings vir die aansoek beklemtoon die twee mans het “goeie vordering” in die tronk gemaak.
“Julle het albei studeer en uitstekende resultate behaal. Dit is in jul en die gemeenskap se belang dat die aansoek goedgekeur word.”
Tiedt en Van Schalkwyk moet vir die volgende vyf jaar onder korrektiewe toesig wees, het hy gelas.
Die twee sou ná hul hofverskyning gisteroggend terug tronk toe gaan sodat die laaste administrasie afgehandel kon word voordat hulle sou huis toe gaan.
Net voor 14:00 het Tiedt sy pa, Chris, vanaf die tronk gebel en gesê: “Pa, ons ry oor vyf minute.”
“En toe word die seuns, sonder ’n verduideliking, omgedraai, teruggevat selle toe en toegesluit,” het mnr. Tiedt gisteraand gesê.
“Ons is verslae. Ek verstaan nie, hul vrylating was dan ’n hofbevel?”
Jenny Brewis, Tiedt en Van Schalkwyk se prokureur, is bloot deur korrektiewe dienste meegedeel dat die tronk instruksies van “bo” ontvang het om die twee nié vry te laat nie.
“Ek het pas die area-kommissaris van korrektiewe dienste gebel en gesê ek stuur vir hom ’n faks. As die twee seuns nie teen more 10:00 vry is nie, sal ons ’n dringende aansoek by die hoë hof bring,” het sy gesê.
Zacharia Modise, hoofadjunkkommissaris: korreksies van korrektiewe dienste, het verduidelik dat hulle nie vrygelaat is soos die hof beveel het nie, omdat daar “heelwat aspekte is wat in ag geneem moet word”.
Hy het gesê die hofbeslissing is na die departement se regspan gestuur om “te bekyk”.
Volgens hom is een van die probleme dat die hofbeslissing net op twee van die vier gevangenes van toepassing is.
Hy het gesê hulle kan selfs die hofbevel terug na die hof verwys om te kyk of die ander twee nie ook in ag geneem moet word nie.
Beeld het egter verneem dat Becker en Du Preez, wat in Pretoria se sentrale gevangenis aangehou word, se vonnisse nog nie omgeskakel is nie omdat hulle nog nie ’n soortgelyke aansoek ingedien het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld