Waterkloof-2 nie terug tronk toe nie
2012-02-10 16:17
Die departement van korrektiewe dienste se aansoek om appèl aan te teken teen die parool van twee van die sogenaamde Waterkloof-vier, het Vrydag misluk, het Beeld berig.
Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk se parool en voorwaardes geld dus steeds. Hulle bly onder korrektiewe toesig.
Hulle is op 15 Desember verlede jaar vrygelaat.
Die kommissaris van korrektiewe dienste het die aansoek gebring. Landdros Peet Johnson het bevind dat die kommissaris geen mag het om in te meng by die besluit van die paroolraad nie.
Hy het bevind dat 'n verteenwoordiger van die direktoraat van openbare vervolging, wat 'n aanklaer in die vier se saak destyds was, die aansoek om omskakeling van hul vonnis by die paroolraad bygewoon het in Desember. Hy het toe geen probleem met die aansoek of prosedure daarom gehad nie.
Die kommissaris moet ook die respondente se kostes betaal.
Die "Waterkloof-vier" is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat 'n hawelose man dood is toe hulle hom in 'n park in Pretoria aangerand het. Hulle is aan moord skuldig bevind.
– Beeld
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA