Watergehalte vir sommige nie prioriteit
2010-04-20 05:53
Durban – Nege munisipale waterowerhede het nie deelgeneem aan die regering se watergehalte-assesseringsprogram nie.
Blue Drop, die departement van omgewingsake en waterwese se assesseringsprogram, is daargestel om die gehalte van drinkwater wat deur Suid-Afrikaanse munisipaliteite en waterowerhede verskaf word, te reguleer.
Van die 787 munisipale waterowerhede wat aan die assessering deelgeneem het, het slegs 38 Blue Drop-status bereik vir 2010.
Rejoice Mabudafhasi, adjunkminister van waterwese en omgewingsake, het egter beklemtoon dat waterverskaffers wat nie die Blue Drop-status behaal het nie, nie noodwendig water van swak gehalte verskaf nie.
Slegs munisipaliteite wat 'n telling van 95 persent en meer behaal het, het die Blue Drop-status behaal.
In die verslag van 269 bladsye het assesseerders hul teleurstelling uitgespreek dat nege munisipaliteite glad nie ingestem het om geassesseer te word nie.
- SAPA