Wat om van staatsrede te verwag
2012-02-09 07:00
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma se staatsrede kan Donderdag in ’n groot mate op die ekonomie fokus, met die klem op werkskepping in spesifiek die kennis- en groen (omgewingsvriendelike) ekonomie, asook belegging in infrastruktuur en handelsgroei met Afrika eerder as Europa.
Daar is baie druk op Zuma om volhoubare werkskepping en ekonomiese groei die fokus van die staatsrede te maak en die verwagting is dat hy dit sal doen binne die konteks van die wêreldwye resessie, veral in Europa, die onlangse onderhandelings tussen wêreldleiers in Davos en die pas afgelope vergaderings van die ANC-leierskap en die kabinet.
Daar is ’n baie sterk konsensus dat die president kan kies om staatsgedrewe ekonomiese groei en werkskepping te takel deur die oprigting en opknapping van infrastruktuur as katalisator vir ekonomiese groei te gebruik.
Binne die kabinet is daar steun vir wetgewing om die ontwikkeling en opknapping van infrastruktuur deur spesiale wetgewing vry te stel van die rompslomp en regulasies wat soveel ontwikkeling kniehalter – vergelykbaar met die spesiale stappe om die Wêreldbeker-sokkerstadions betyds en op peil voltooi te kry.
Zuma sal na verwagting aandui dat Suid-Afrika die wêreldresessie tot dusver betreklik goed hanteer, maar dat die strop al hoe nouer om die land se keel sal span, veral omdat Suid-Afrika so afhanklik van handel met Europa is.
Aangesien Afrika die belowendste ekonomiese groeimoontlikheid is, sal Zuma Suid-Afrikaners aanmoedig om handelsbetrekkinge met Afrika eerder as Europa hul hooffokus te maak.
Die president sal waarskynlik moed put uit die onlangse effense verlaging in die werkloosheidsyfer, maar is onder druk om die ontsettende verlies aan werksgeleenthede tydens sy bewind te bestendig, of om te swaai.
Enige dramatiese beleidsaankondiging sal ’n verrassing wees. Zuma sal na verwagting nie afwyk van sy gewoonte om detail-aankondigings aan sy ministers oor te laat nie.
Dit is bekend dat die president meen ’n staatsrede van ’n uur lank is te kort om in besonderhede op vraagstukke in te gaan. Hy sal boonop in die versoeking wees om die ANC se eeufees te behandel met die volledigheid wat hy meen dit verdien.
Aankondigings ter verbetering van die onderwys-, gesondheid- en welsynstelsels word verwag, maar dit sal verfynings eerder as veranderings van beleid omvat.
Daar is ’n sterk aandrang op die president om sy standpunt uit te stippel met betrekking tot sleutelvrae soos nasionalisering, grondhervorming en die inperking van spraakvryheid.
Verskeie ministers het hulle die laaste paar dae onomwonde teen die nasionalisering van spesifiek die mynbou uitgespreek, maar daaroor het die ANC se jeugstrukture hulle Woensdag voor stok gekry.
Gegewe die verdeeldheid in die ANC daaroor word verwag dat Zuma katvoet sal loop eerder as om onmin te veroorsaak, wat dui op nog ’n vaal Zuma-staatsrede.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger