Wapens kos SA meer as R70 miljard
2011-04-09 23:16
Johannesburg - Suid-Afrika sal teen einde vanjaar meer as R70 miljard betaal het vir die koop van oorlogskepe, vegvliegtuie en ander toerusting.
Eksklusiewe navorsing hieroor word onthul in ’n nuwe boek oor die wapentransaksie, The Shadow World – Inside the Global Arms Trade deur Andrew Feinstein, voormalige ANC-LP en aktivis.
Feinstein en Paul Holden, outeur en die projek se leidende navorser, voer aan die finansieringskoste van die oorspronklike koopbedrag is nooit ingereken nie en namate die wisselkoers wipplank gery het deur die jare, het die bedrag aangehou styg.
Hulle plaas ook die besteding in konteks:
Tot in 2008 het die regering R7,63 aan die wapentransaksie bestee vir elke R1 wat hy op sy MIV/vigsprogram bestee het; en
R41 miljard is aan behuising bestee in dieselfde tydperk wat altesame R64 miljard aan wapenmaatskappye betaal is.
***
Die uiteindelike rekening vir die omstrede wapentransaksie waarvoor Suid-Afrikaanse belastingbetalers sal moet opdok, is veel hoër as wat die regering bereid is om aan die publiek te erken.
Eksklusiewe nuwe navorsing wat Andrew Feinstein, voormalige ANC-LP en aktivis oor die wapentransaksie in ’n nuwe boek gaan onthul, wys daarop die land sal teen die einde van die jaar meer as R70 miljard betaal het vir die koop van oorlogskepe, vegvliegtuie en ander toerusting.
Feinstein se nuwe boek, The Shadow World – Inside the Global Arms Trade , volg op sy vorige boek, After the Party , wat handel oor die Suid-Afrikaanse wapentransaksie en sy eie bedanking as LP in 2001 uit protes teen die transaksie.
Hy en Paul Holden, outeur en die projek se voorste navorser, voer aan die finansieringskoste van die oorspronklike koopbedrag is nooit ingereken nie.
Feinstein, wat nou as aktivis in die krygsbedryf en navorser in Londen woon en werk, het ’n groot rol gespeel in die staande komitee oor openbare rekenings (Skoor), waarvan hy lid was, se aanwysing van ’n multi-agentskapondersoek na die wapentransaksie.
Dié transaksie, wat in 1997 deur oudpres. Thabo Mbeki (wat toe adjunkpresident was) aangekondig is, teister die Suid-Afrikaanse politiek, en veral die ANC, reeds ’n dekade lank.
Holden het aan City Press gesê die bedrag van R70?miljard is bereken deur die departement van verdediging se begroting van 2008 te gebruik. Dít het ’n uiteensetting van die koste tot op hede gegee én toekomstige koste van die transaksie tot in 2011 geskat.
“Die gestelde koste in 2008 was tóé R43 miljard, met ’n bykomende R4,3 miljard wat teen 2011 bestee moes wees.
“Ongelukkig is die R4,3 miljard nie vasgepen nie weens die wisselkoers,” het Holden gesê. Deur die wisselkoers in ag te neem, is die koste aangepas tot R47,8 miljard teen 2011.”
Maar, sê Holden, dit is net die “verklaarde koste” en het nie die reeks “onvoorsiene koste verbonde aan die transaksie” weerspieël nie.
“In die besonder het hierdie syfer nie die finansieringskoste van die transaksie ingesluit nie.”
Die regering het nog nie ’n algehele syfer vir die finansieringskoste verskaf nie, maar die verslag van ’n gesamentlike ondersoekspan en ’n konsepverslag van die ouditeur-generaal het die finansieringskoste rofweg geskat op 49% van die transaksie se totale verklaarde koste.
“Deur 49% van R47,8 miljard tot en met 2011 by te voeg, kry ons ’n syfer van net oor die R71 miljard,” het Holden gesê.
Me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het in Januarie aan die parlement gesê die transaksie sal in totaal R47,2 miljard kos, maar dit was sonder inagneming van die finansieringskoste.
En, voeg Holden by, die totale bedrag kan steeds groei as die waarde van die onderhoudskontrakte vir die stralers, skepe, duikbote en helikopters ook bereken word.
“As ons dit in ag neem, kan ons sien waarom die verdedigingsbegroting die laaste tyd so erg onder druk was,” het Holden gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport