Wapenopslagplek in Oos-Kaap gevind
2011-11-24 19:37
Oos-Kaap – 'n Man is in hegtenis geneem nadat 'n wapenopslagplek by 'n huis in Steynsburg in die Oos-Kaap gevind is, het die polisie Donderdag gesê.
Die polisie het Woensdag beslag gelê op vier gewere, drie rewolwers en meer as 500 rondes ammunisie, het lt.kol. Sibongile Soci gesê.
"Forensiese kenners en ondersoekbeamptes is ingeroep om vas te stel waar die wapens vandaan kom," het Soci gesê.
'n Man (43) is op die toneel in hegtenis geneem. Besonderhede oor sy betrokkenheid is nog onduidelik.
Die man verskyn binnekort in die Steynsburg-landdroshof.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA