Wapen teen kop terwyl vrou bid
2011-09-10 08:16
Johannesburg - ’n Rowerbende het Vrydagoggend op ’n veiligheidswoonkompleks in Pretoria-Noord toegeslaan waar hulle van die inwoners vasgebind, beroof, gekaap en een doodgeskiet het.
Die aanval het gebeur net ’n dag nadat die polisie misdaadstatistieke vir die 2010-’11-boekjaar bekend gemaak het.
In Pretoria-Noord het moord met 20% afgeneem, terwyl huisrooftogte met 13% en motorkapings met 73% gedaal het.
Kapt. Solly Marindi, polisiewoordvoerder, het gesê ’n groep van vyf aanvallers het omstreeks 08:30 by die Sommerso-kompleks in Sandappelstraat in Florauna ingekom nadat ’n huiswerker die hek oopgelos het. Sy was besig om vullisblikke in die straat te sit.
Die huiswerker en haar werkgewers, Fred en Ria Greyling, wat in die middelste van vyf eenhede woon, was die eerste slagoffers.
Die huiswerker, wat net as Annie bekend is, het mnr. Greyling (52) van twee verdagte motors in die kompleks vertel.
Hy het buitentoe geloop, gesien daar is moeilikheid en toe weer binnetoe geloop.
Een van die aanvallers het hom aan die broek gegryp, hom en Annie in die huis ingedwing en vasgebind.
“Hulle het gesê hulle is nie hier vir ons nie, maar vir die Chinees,” het Greyling gesê.
“Een van die Chinese is twee maande gelede ook by die hek met ’n vuurwapen aangehou.”
Mev. Greyling (52) was besig met stiltetyd in haar kamer toe haar man en huiswerker oorval is. “Ek was op my knieë besig om te bid toe ek voel hoe iemand met ’n vuurwapen op my skouer tik,” het mev. Greyling gesê.
“Hulle het my sitkamer toe geneem waar my man en die huiswerker vasgebind op die bank gesit het. Ek het net heeltyd gebid dat niks met ons moet gebeur nie.”
Die aanvallers het mev. Greyling se juwele en selfoon geroof voordat hulle na eenheid 1 gegaan het waar Chinese immigrante woon. Volgens Marindi het die vier Chinese die aanvallers sien aankom en die voordeur toegedruk.
“Die aanvallers het geveg om die deur oop te kry,” het Marindi gesê. “In die sitkamer het ’n struweling tussen die Chinese en die aanvallers uitgebreek waartydens een man in die bolyf geskiet is. Die aanvallers het vir geld gekom, maar niks gekry nie.”
Gim-min Wa (49) is op die toneel dood.
Op pad uit die kompleks uit het die aanvallers Nico Hattingh se motor gekaap.
Hattingh woon in Graaff-Reinet en het vir die week in Pretoria gekuier. Hy, sy suster, Julie de Klerk, en sy ma, Grietie Hattingh (78), wat in eenheid 5 woon, sou gisteroggend ontbyt gaan eet het.
Hy het pas by die kompleks ingery om sy ma op te laai toe hy van die Mercedes-Benz C200 beroof is waarmee hy gery het.
Dié motor, wat ’n vriend aan Hattingh geleen het, is danksy ’n opsporingstelsel teruggevind.
Die aanvallers het in die Ford Bantam en VW Golf gevlug waarmee hulle daar aangekom het.
Teen gistermiddag was daar nog geen arrestasies nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld