Wantroue-mosie teen Zuma 'laf' – ANC
2012-11-09 07:15
Kaapstad – Die ANC het die mosie van wantroue wat teen pres. Jacob Zuma ingedien is, as 'n "speelse, lawwe publisiteitsfoefie" beskryf, berig Mail & Guardian.
Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, het die mosie namens die opposisiepartye, insluitend die African Christian Democratic Party, Azanian People's Organisation, Congress of the People, die Vryheidsfront Plus en die Inkatha Vryheidsparty, aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgehou. Kort daarna het die ANC 'n teenmosie voorgehou waarin hy voorstel dat die parlement sy volle vertroue in Zuma se leierskap herbevestig.
Redes vir die mosie van wantroue, sluit ondermeer in die Marikana-slagting, die skandaal oor die president se private woning in Nkandla, sowel as die handboek-sage in Limpopo en die Oos-Kaap.
Die opposisiepartye het ‘n lys saamgestel wat in die NV voorgehou sal word. Dit sluit in die Nkandla-skandaal, die verswakte regstelsel, die afwaartse aanpassing van die land se kredietgradering, en die toenemende probleem met werkloosheid in die land.
Moloto Mothapo, woordvoerder vir die ANC se hoofsweep, het gesê die mosie is nie gebaseer op enige feite of bewyse nie en kom dus neer op karaktermoord.
"Die sogenaamde mosie van wanvertroue in pres. Jacob Zuma is 'n desperate, indien nie lawwe, publisiteitsfoefie deur 'n groep aandagsoekende opposisieleiers."
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter