Walvis spring op seiljag in Tafelbaai
2010-07-20 08:20
Die Burger
Kaapstad - Dit was so hittete of Ralph Mothes en Paloma Werner het in die water beland nadat ’n 12 m lange walvis Sondag op hul seiljag gespring het.
’n Ongewone verskynsel is dit beslis. Gewoonlik is dit mense wat walvisse van naderby wil beskou. Maar ’n jong walvis het Sondag in Tafelbaai die bordjies verhang met ’n vinnige “kuiertjie” op dié twee se seiljag.
Mothes, ’n instrukteur by die Cape Town Sailing Academy, en Werner, ’n kollega, het met die seiljag Intrepid uit die hawe hier in die rigting van Robbeneiland gevaar.
Volgens Mothes het hulle die walvis gewaar terwyl hulle in Tafelbaai geseil het.
“Daar was verskeie ander bote in die omgewing. ’n Motorboot het in sirkels om die walvis gevaar. Dit het gelyk of die motorboot baie naby aan die walvis was.
“Ons was sowat 100 m van die walvis af en dit het nie gelyk of hy in ons rigting beweeg nie. Die walvis het onder die water verdwyn en toe hy weer sy kop uitsteek, was hy sowat 10 m van die seiljag af,” het Mothes gesê.
Hy weet nie of die mense op die motorboot dalk die walvis geïrriteer het deur aanhoudend om hom te ry nie.
Werner het gesê dinge het daarna baie vinnig gebeur. “Toe ons die walvis 10 m van die seiljag sien, het Ralph my gevra om na die ander kant van die jag te beweeg. Hy het gesê die walvis sal óf wegswem óf onderdeur die seiljag swem.”
Maar toe het die walvis skielik uit die water tot op die dek gespring.
“Die walvis het die mas getref. Dit het afgebreek en met seile en al op die dek geval. Die mas het Ralph net-net gemis,” het sy bygevoeg.
Enkele oomblikke later het die walvis van die seiljag se dek afgegly en onder die water verdwyn.
Mothes het bygevoeg die boot het nie gesink nie omdat dit van staal gemaak is. “ ’n Seiljag van veselglas sou heel waarskynlik op die seebodem beland het.”
Hy het die skade op sowat R150 000 geraam.
Mike Meyer, ’n walviskenner, het gesê walvisse spring gereeld uit die water. “Maar dit gebeur selde dat hulle tot op ’n seiljag of boot spring.”
- Die Burger