Wagte brand dood: 5 verdagtes skuif na C-Max
2010-09-20 21:38
Beeld
Polokwane (Pietersburg). – Vyf van die vermeende transitorowers wat ’n geldwa, met vier veiligheidswagte binne-in, in Limpopo aan die brand gesteek het, gaan voortaan in die C-Max-maksimumveiligheidsgevangenis in Pretoria aangehou word.
Mnre. Emmanuel Malebo (38), Joseph Malebese (50), Emmanuel Baros (39), Asser Ndjamba (37) en Antonio Ndala (43) beweer hulle is in die Polokwane-gevangenis onregverdig behandel.
Hulle wil ook nader aan hul families in Johannesburg en Pretoria wees.
Hulle word sedert hul inhegtenisneming in die Polokwane-gevangenis aangehou.
Mnr. Rex Stein, pa van mnr. Deon Stein (20), een van die vermoorde veiligheidswagte, het gister gesê “hulle het nie my kind gevra of hy weer sy familie wil sien toe hulle hom doodgemaak het nie”.
Stein jr. is op 29 September 2006 dood saam met drie kollegas, mnre. Dirk Kleynhans (28), Marcus Malete (24) en Hennie Botha (22).
Hulle het by die SBV-veiligheidsmaatskappy in die stad gewerk en was op pad na Lephalale (Ellisras) om geld af te laai.
Hulle is op die pad tussen Marken en Baltimore deur ’n groep van sowat 22 rowers oorval.
Daar is met AK47- en R5-aanvalsgewere op hulle geskiet.
Ndala, ’n oudlid van 32 Bataljon, se verklaring lui dat Baros, ook ’n oudlid van 32 Bataljon, petrol oor die geldwa gegooi en dit met ’n sigaretaansteker aan die brand gesteek het.
Kleynhans, Malete en Botha het in die geldwa verkool.
Boere het Stein uitgehaal, maar hy is oomblikke later weens rookinaseming dood.
Regter M.W. Msimeki het die verhoor tot 24 Januarie 2011 uitgestel.
- Beeld