Wag verdrink in stormwaterpyp
2010-08-07 10:38
Johannesburg – ‘n Sekuriteitswag het verdrink toe hy in Emmarentia ‘n man agternagesit en toe in ‘n stormwaterpyp geval het, sê Johannesburgse nooddienste.
Synock Matobako, woordvoerder van die nooddienste, sê die 35-jarige wag het Saterdagoggend ‘n verdagte in Barry Hertzogweg agternagesit en toe naby Judithstraat in ‘n stormwaterpyp geval en verdrink.
Die wag het die gebied saam met nog ‘n wag gepatrolleer toe hulle die twee mans sien weghardloop.
Een van die wagte het daarin geslaag om ‘n verdagte te vang, maar die ander wag het aanhou hardloop. Toe hy nie terugkeer nie, het die ander wag die nooddienste in kennis gestel.
Polisieduikers het sy liggaam uit die pyp gehaal.
Die tweede verdagte het weggekom.
Waarom die mans weggehardloop het, is nie bekend nie. Geen klagtes is teen hulle ingedien nie.
- SAPA