Wag hou kop en bel om hulp ná kaping
2010-07-06 10:00
'n Gekaapte veiligheidswag het Maandag kop gehou en sy werkgewer met sy selfoon gebel waar hy en ’n kollega agter- in ’n afleweringsbakkie vasgekeer was.
Twee vermeende kapers is ná ’n hoëspoed-jaagtog en skietery op die N3-hoofweg in die noorde van Johannesburg in hegtenis geneem nadat hulle teen ’n polisiemotor gebots het.
Vroeër die dag is nog drie vermeende kapers aangekeer, ook nadat hulle teen ’n polisiemotor vasgery het.
Die 27-jarige veiligheidswag en die bestuurder (30) van die bakkie van die verspreidingsmaatskappy RTT is omstreeks 08:40 in Germiston gekaap toe hulle met sowat R1 miljoen se selfone na Soweto op pad was, het kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, gesê.
“Hulle het die bestuurder en sy kollega agterin die bakkie ingeboender nadat hulle die wag se wapen gevat het. Die wag het egter nog sy selfoon gehad en sy werkgewer gebel en van die kaping ingelig.”
Volgens ’n man wat by RTT se risiko-afdeling werk en sy naam net as Sox wou gee, is die twee mans erg geskok.
“Die wag was vreesbevange toe hy ons gebel het en sê hy het ’n probleem, ons moet hom terugskakel. Jy kon hoor hy was geskok en baie bang, maar hy kon darem die regte inligting deurgee.”
Sox het gesê hulle is bly die twee mans is nie beseer nie.
Lede van die blitspatrollie, die polisie se openbare orde- eenheid, die Ekurhuleni-metropolisie se K9-eenheid en die opsporingsmaatskappy Tracker het die bakkie agternagesit. ’n Polisiehelikopter het ook aan die jaagtog deelgeneem.
Metropolisiebeamptes het gesê hulle het die opsporingsein by Van Buurenweg by Bedfordview gekry. Hulle het die bakkie op die N3-hoofweg na Johannesburg agternagesit. Die kapers het tot op die M2-hoofweg gery, by die Cleveland-afrit af- en weer opgery en toe weer op die N3 gekom.
By die Marlboro-afrit naby Alexandra het die bakkie teen die blitspatrolliemotor gebots. Die vermeende kapers het probeer weghardloop, maar een is in die linkerarm gewond en die ander in die rug.
Die polisie is nog op soek na ’n vuurwapen wat een van hulle in die bosse langs die hoofweg gegooi het.
Hulle is onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem.
In die vroeëre voorval het vier mans ’n motoris tussen 05:00 en 06:00 in Halfway House, Midrand, met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan en hom uit sy silwer Toyota RunX getrek, het ao. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, gesê.
“Op die M1 op pad na Johannesburg het die polisie die mans agternagesit toe die opsporingstelsel geaktiveer word. Die mans het die polisie agter hulle gesien en by Norwood ’n u-draai gemaak en tot in Louis Bothalaan gery en terug na die Alexandra-omgewing gejaag.”
Opgehoopte verkeer by ’n rooi verkeerslig op die Ou Pretoria-hoofweg in Wynberg het die kapers tot stilstand gedwing. Hulle het teen ’n polisiemotor gebots toe hulle agteruit ry.
Drie insittendes tussen 20 en 23 jaar oud is gearresteer, maar hul makker kon vlug.
Die eienaar van die motor is na ’n hospitaal geneem vir behandeling.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld