Waarheid oor ANC’s se prospekteerregte
2010-11-21 07:05
Julian Rademeyer, Jacques Pauw en Andrew Trench
Johannesburg - Die ANC se omstrede belegging- en geldwerwingsfront, Chancellor House,
het ’n winsgewende aandeel in die stormloop na Suid-Afrika se minerale
rykdomme bekom.
Kritici verdoem dit as ’n skokkende botsing van belange.
Rapport
het vasgestel Chancellor House Mineral Resources, ’n filiaal van
Chancellor House Holdings, het die afgelope ses jaar regte bekom om op
560 plekke in die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga te prospekteer.
Aansoeke om op nog 400 plekke te prospekteer word deur die departement van minerale en energie oorweeg.
Uit
ondersoeke blyk dit ook dat prominente lede van die ANC se nasionale
uitvoerende komitee (NUK) direkte belange in mynboumaatskappye het,
waarvan sommige dosyne prospekteerregte bekom het.
Onder hulle is
die party se tesourier-generaal, Mathews Phosa, adjunkministers Ebrahim
Ebrahim en Ayanda Dlodlo, die speaker van die Nasionale Vergadering,
Max Sisulu, die voormalige spioenbaas Billy Masetlha, die sakeman Cyril
Ramaphosa en me. Thenjiwe Mtintso, Suid-Afrika se ambassadeur in Italië.
Die besonderhede van die toekenning van prospekteerregte word
vervat in ’n departementele databasis met 1,5 miljoen inskrywings.
Ons
ontleding van die departement se syfers wys vir die eerste keer waar
die regerende party se prospekteerregte is. (Sien kaart.)
Dié
onthulling kom te midde van ’n hewige debat oor die potensiële
nasionalisering van myne en die ANC se aankondiging die afgelope week
dat hy twee senior navorsers en ’n projekbestuurder aanstel.
Hulle moet “suksesvolle modelle wat die rol van die staat in mynbou oorweeg” ondersoek.
Chancellor House se uitvoerende hoof, Mamatho Netsianda, het geweier om die kwessie te bespreek.
Peter Leon, ’n mynbouwetgewing-deskundige en voorsitter van die
Internasionale Regsvereniging se mynbouregkomitee, sê dit is “baie
problematies dat die staat prospekteerregte aan die beleggingsfront van
die regerende party toegeken het”.
“Die staat behoort nie
Chancellor House of die regerende party van sakegeleenthede te voorsien
nie. Dit is oneties, dit is ’n konflik van belange en is niks anders nie
as voortrekkery. Daar moet ’n duidelike skeiding tussen die staat en
private sakebelange wees en in hierdie geval vervaag dit.”
’n
ANC-woordvoerder, Brian Sokutu, het Vrydag gesê: “Chancellor House
is ’n geregistreerde besigheid wat ingevolge die Maatskappyewet gestig
is en het die reg om soos enige ander maatskappy handel te dryf.
“Daar is geen belangebotsing nie en mense hoef nie bekommerd te wees nie.”
Met
verwysing na die betrokkenheid van senior NUK-lede by mynbou het Sokutu
gesê: “Indien ’n NUK-lid nie ’n regeringsposisie beklee nie, is daar
niks wat hom of haar verhoed om besigheid te doen nie. Daar kan egter ’n
probleem wees indien daardie person ’n senior staatsdiensamptenaar of
’n minister of adjunkminister is.”
Dr. Koos Pretorius,
mynboukenner en direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing,
ondersoek die toekenning van prospekteerregte aan Chancellor House.
“Dit
lyk asof die departement weer eens die hele proses gestoomroller het en
prospekteerregte toegeken het sonder dat grondeienaars en
belanghebbende en geaffekteerde partye behoorlik geraadpleeg is.”
Die
wet bepaal uitdruklik dat grondeienaars en geaffekteerde partye in
kennis gestel moet word van die voorneme om op hul grond te prospekteer.
Daarna moet breedvoerig met hulle oorleg gepleeg word.
Pretorius sê die prospekteerregte aan Chancellor House is problematies.
“Hierdie
maatskappye hoop om uiteindelik hul regte aan ’n ander maatskappy te
verkoop en om in die proses ’n hoop geld te maak. Chancellor House is
waarskynlik geen uitsondering nie.”
Mnr. Frans Baleni, algemene
sekretaris van die invloedryke National Union of Mineworkers (NUM), sê
hy is nie gekant teen die regerende party of NUK-lede wat belange in
mynbou het nie.
Maar hy is bekommerd dat “jy invloedryke mense
daar kan kry wat dalk nie ’n bydrae kan lewer tot die bedryf nie en
basiese aspekte soos menseregte kan verontagsaam”.
“Die kwessie
hier is regverdigheid. Het hulle die regte soos enige ander persoon
gekry? In ’n geval waar iemand sy posisie misbruik, kan dit baie
negatiewe gevolge inhou en die beeld van mynbou skaad,” sê Baleni.
Die
ANC-jeugliga is ook om kommentaar genader oor die potensiële botsing
van belange, maar die woordvoerder van die liga, mnr. Floyd Shivambu,
het gesê dié vraag is “dom”. Hy sê hy is nie bekommerd dat die ANC se
mynbelange dié organisasie sal verhoed om ’n onafhanklike oordeel te vel
oor die oproepe van die jeugliga om myne te nasionaliseer nie.
“Dis ’n dom argument. Enigiemand wat meen dat Chancellor House se mynbelange ons besluit sal beïnvloed, is ’n dwaas.”
Die
Chancellor House-groep van maatskappye, wat genoem is na die gebou
waarin Nelson Mandela en Oliver Tambo hul regsfirma in die 1950’s
gevestig het, is in 2003 gestig. Dié maatskappy fokus veral op minerale
en energie.
Die bestaan van Chancellor House is in 2006 vir die
eerste keer aan die lig gebring. Die Instituut vir Sekerheidstudies
(ISS) en die Mail & Guardian het toe onthul dié maatskappy is deur
die ANC se tesourier-generaal, Mendi Msimang, gestig as ’n
sakefront vir die ANC.
Die maatskappy se enigste aandeelhouer is
die Chancellor House Trust. Die voormalige premier van Noordwes en lid
van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Popo Molefe, is die
voorsitter.
Die ISS-verslag sê Msimang het reeds in 2002
verteenwoordigers van die destydse departement van
mineraal-en-energiesake genader om toekomstige sakegeleenthede vir
Chancellor House te beveilig.
Die ISS het ook onthul dat die
regering toe reeds mineraalregte vir mangaan aan Chancellor House?en ’n
Russiese oligarg, mnr. Viktor Vekselberg, toegeken het.
Daar was
verdere omstredenheid oor Chancellor House toe dit midde-in die
elektrisiteitskrisis bekend geword het dat hy ’n 25%-aandeelhouding het
in Hitachi Power Africa, die maatskappy wat deur Eskom aangestel is om
stoomketels vir twee nuwe kragsentrales te voorsien.
In
Februarie 2008 het die nuwe tesourier-generaal van die ANC, Mathews
Phosa, aangekondig dat Chancellor House “onmiddellik” sy aandeel in
Hitachi Power Africa gaan verkoop.
Dis drie jaar later en die
ANC het steeds nie sy aandeel verkoop nie. Dit het die afgelope week
bekend geword dat Chancellor House ’n groot steenkoolmyn in Swaziland
gekoop het, wat weer eens kritiek ontlok het dat die maatskappy voordeel
trek uit die nasionale energiekrisis.
- Rapport