Waaghals beboet ná sprong van Tafelberg
2012-01-17 10:01
Kaapstad – Die Amerikaanse waaghals wat ernstig beseer is toe hy by Tafelberg afgespring en ‘n rotslys getref het, sal beboet word vir dié onwettige sprong, het die Cape Times Dinsdag berig.
Jeb Corliss (35), wat in die intensiewe sorgeenheid in ‘n hospitaal in Kaapstad is, het meer as 1 000 spronge van bakens soos die Eiffeltoring, die Petronas-torings in Maleisië en die Golden Gate-brug in San Francisco suksesvol voltooi.
Merle Collins, woordvoerder van die Tafelberg Nasionale Park, het gesê Corliss het nie toestemming gehad om Maandag se sprong te doen nie.
“Die gevare wat Base-spring inhou laat ons nie toe om permitte uit te reik nie,” het sy gesê.
“Hy het nie toestemming gehad nie. Ons sal hom verseker beboet en moontlik ‘n aanklag teen hom bring,” het sy gesê.
Collins het verder gesê dat Base-spring ‘n negatiewe beeld kan plaas in terme van veiligheid op die berg.
Sy het reeds oproepe ontvang van persone wat wil spring en wat permitte versoek.
Volgens Collins het ‘n man haar reeds gekontak om uit te vind hoe Corliss ‘n permit bekom het.
“Hy het gesê hy het aansoek gedoen vir een, maar is dit nie toegestaan nie, so hy kon nie verstaan hoekom Corliss toegelaat is om te spring nie,” het Collins gesê.
“Hy mag glad nie gespring het nie. Dit bekommer my, want mense dink dalk nou dat hulle dit sonder permitte kan doen.
“Hy is baie, baie gelukkig om sy lewe te hê.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA