WKOD-werknemer vas oor ‘bedrog’
2009-10-23 08:25
Marelize Potgieter
Kaapstad – ’n Werknemer van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is gister weens beweerde bedrog van R1 miljoen in hegtenis geneem.
Die vrou was betrokke by ’n projek om skole van leermateriaal te voorsien.
Luidens ’n verklaring van die Wes-Kaapse departement van onderwys is die polisie onmiddellik in kennis gestel toe daar van die beweerde bedrog verneem is.
Volgens Bronagh Casey, departementele woordvoerder, is die onreëlmatigheid danksy die streng finansiële moniteringstelsels van die departement ontdek.
“Die WKOD kan nie verdere detail bekend maak nie omdat die saak nog ondersoek word.
“Ons is baie teleurgesteld oor die voorval, maar is dankbaar dat moniteringstelsels effektief is.
“Die WKOD is vasberade om enigiemand wat staatsgeld steel, op te spoor en aan die polisie te oorhandig,” het sy gesê.
Die vrou is uit haar pos geskors.
- Die Burger