WKOD: Kaapse skole onveilig
2010-03-02 08:23
Marelize Potgieter
Kaapstad - Talle Wes-Kaapse skole is nie veilig nie, blyk uit statistiek van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) oor voorvalle van geweld wat verlede jaar hier in skole voorgekom het.
Minstens 194 voorvalle van seksuele geweld is in Wes-Kaapse skole aangemeld. Boonop is 141 voorvalle van messtekery by die Veilige Skole-afdeling van die WKOD aangemeld, waarvan 73 op die skoolterrein plaasgevind het.
Hoewel daar ’n effense daling in die voorvalle van aanranding was, is 276 voorvalle steeds verlede jaar by die Veilige Skole-afdeling aangemeld, het die Wes-Kaapse minister van onderwys, Donald Grant, Maandag gesê.
“Ons is woedend oor die huidige stand van misdaad in Wes-Kaapse skole.”
Hoewel die meeste van dié voorvalle in die 109 hoërisiko-skole in die Wes-Kaap voorgekom het, het voorvalle ook in gegoede gebiede voorgekom.
“Ons lewe in ’n multi-komplekse samelewing en dit is jammer dat daar nie ’n wonderkuur is wat die situasie kan oplos nie.”
Dit is verblydend dat voorvalle van seksuele teistering, geweld en verbale mishandeling afgeneem het, maar dit is steeds kommerwekkend dat daar kinders is wat in vrees skool toe gaan.
“Kinders wat in vrees lewe, kan nie hul potensiaal bereik nie en hul vermoë om leerdoelwitte te bereik, word geïnhibeer,” het Grant gesê.
Baie van die voorvalle kan met bendegeweld verbind word en is ’n refleksie van die gemeenskap waarin sommige skole hulle bevind.
Die Wes-Kaap sit met ’n lang geskiedenis van drank- en dwelmmisbruik en 80% van die voorvalle van geweld kan daaraan toegeskryf word, het hy gesê.
Die WKOD het in samewerking met die polisie die Veilige Skole-projek geprioritiseer sodat misdaad doeltreffend bekamp kan word.
Jock Strachan van die aborsie- en gesinsbeplanningskliniek Marie Stopes in Kaapstad het gesê tussen 7% en 10% van die tienermeisies wat aborsies kry, is op skool en 70% van dié meisies se eerste seksuele ervaring was nie uit vrye wil nie.
Patrick Solomons van die kinderregte-organisasie Molo Songololo het gesê geweld in skole is ’n groot probleem.
Voorvalle van vooraf beplande geweld tussen leerders, asook tussen leerders en onderwysers, is nie vreemd nie.
“Daar moet meer klem op konflikoplossing en ’n beleid van geen geweld in skole geplaas word.”
Robert McDonald, woordvoerder van Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het in ’n verklaring gesê meer lukrake deursoeking word in skole beplan.
Die Wes-Kaap beoog om meer maatskaplike werkers en sielkundiges vir skole beskikbaar te stel en beter toegang tot dienste by jeugsentrums te bewerkstellig.
- Die Burger