W-Kaapse rade skenk duisende vir jeugfees
2011-08-06 10:00
Kaapstad - Agt Wes-Kaapse munisipaliteite en vyf premierskantore tel onder die staatsinstellings wat bygedra het tot die omstrede jeugfees van die nasionale jeugontwikkelingsagentskap (NYDA).
Dié 17de Wêreldfees vir Jeug en Studente is in Desember teen R100miljoen in Pretoria aangebied.
Ander skenkers was die departemente van kuns en kultuur en van kommunikasie, asook munisipaliteite elders in die land. Dié twee nasionale departemente het onderskeidelik R3miljoen en R1,89miljoen bygedra.
Altesaam R17 miljoen van dié geld is nog uitstaande en word “desperaat” benodig om die boeke af te sluit. Dié inligting blyk uit ’n verslag oor die fees wat Donderdag in die parlement ter tafel gelê is.
Die agt Wes-Kaapse munisipaliteite wat die sak vir die fees geskud het, sluit in Eden (R10 400), Overberg (R9 600), Kaapse Wynland (R13 600), Bitou (R13 600), Oudtshoorn (R12 000), Breedevallei (R13 600), Knysna (R13 600) en Hessequa (R13 600).
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het gesê werknemers van die Overberg-distriksmunisipaliteit het hom verlede maand gevra om in te gryp omdat die munisipaliteit glo nie geld gehad het om salarisse te betaal nie. Hy het gehelp om sowat R1,5 miljoen te kry om die werkers mee te betaal.
“Dit is nie munisipaliteite se plig om geld te skenk vir jeugfeeste nie. Hulle moet fokus op hul kernpligte, soos dienslewering,” het hy gesê.
Hoewel nie een van die betrokke munisipaliteite ’n gekwalifiseerde oudit gekry het vir die 2009-’10-boekjaar nie, is Oudtshoorn glad nie geoudit nie omdat die munisipaliteit nie sy boeke ingedien het nie.
Die verslag bevat ’n inskrywing van R1600 onder “WC Beaufort-Wes”, maar die NYDA kon nie gister bevestig of dit na die Beaufort-Wes-munisipaliteit verwys nie. Ander skenkings bestaan uit R1miljoen elk van die premierskantore van die Vrystaat, Oos- en Noord-Kaap en Limpopo, asook R1,592miljoen van die Mpumalanga-premierskantoor.
Andile Lungisa, NYDA-voorsitter, het gister gesê die fees “het die wêreld ten goede verander”.
Mnr. Athol Trollip, die DA se parlementêre leier, het in reaksie gesê eerder as om R100miljoen te bestee aan ’n fees waar die lof van Fidel Castro (die voormalige Kubaanse president) besing en verouderde ekonomiese beleid gedebatteer is, behoort die regering sy tyd, energie en politieke wil te gebruik om aandag te gee aan die armoede- en werkloosheidskrisis.
Intussen het ’n Babelse verwarring gistermiddag by die Mayibuye-sentrum in Galeshewe in Kimberley geheers op die vooraand van die tweede omstrede nasionale NYDA-kongres, berig Charné Kemp.
Terwyl niemand geweet het wanneer die registrasie presies gaan plaasvind nie, het organiseerders en kongresgangers verveeld rondgesit en wag vir lede van die hoofkantoor om op te daag. Hulle was laat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger