W-Kaap-kontrak verleng oor tenderproses
2013-01-29 11:23
Kaapstad – 'n Kontrak tussen die Wes-Kaapse regering en die bemarkingsagentskap TBWA/Hunt Lascaris is verleng tot 'n nuwe tenderproses afgehandel is, het premier Helen Zille se kantoor Dinsdag gesê.
"Die kontrak is verleng en dit is volgens die kontrak heeltemal toelaatbaar," het Zak Mbhele, Zille se woordvoerder, gesê.
"Die premier het niks te doen gehad met die verlenging van die kontrak nie. 'n Proses is begin om 'n nuwe tender saam te stel en dit het langer geneem as wat verwag is, so die kontrak is verleng."
The New Age het Dinsdag berig dat die kontrak veronderstel was om op 31 Desember te verstryk.
Luidens dokumente in die koerant se besit, sou TBWA/Hunt Lascaris 'n betaling van R6 miljoen ontvang vir die eerste ses maande van 2013 en 'n verdere maandelikse betaling van R1 miljoen vir die oorblywende ses maande.
Brent Gerber, direkteur-generaal van die Wes-Kaapse regering, het luidens die dokumente aan die einde van Mei gesê daar was 'n besluit om nie die kontrak te verleng nie.
Die vorige kommunikasie-tender is in 2010 aan TBWA/Hunt Lascaris toegeken.
Die ANC het in Augustus 2011 die Openbare Beskermer gevra om onreëlmatighede te ondersoek ná 'n berig dat die korrekte prosedure nie gevolg is met die toekenning van die tender nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA