Vyfjarige help vrou se lewe red
2010-06-09 06:51
Volksblad
Welkom. – Met ’n byl, skroewedraaier en ’n pak kabelbande op haar man se werkstafel in die motorhuis uitgepak, reg vir watter grusaamheid hy ook al beplan, het ’n tuinwerker ’n Welkomse vrou hier in haar huis oorrompel.
Stonnie van den Berg (40) het eers besef wat moontlik op haar in die motorhuis gewag het nadat sy “met God se genade” uit haar aanvaller se hande ontkom het.
“Die Here het my gedra en klein Xea het my lewe gered”, sê Stonnie van den Berg (40), wat gisteroggend deur haar tuinwerker, “wat ek soos my eie kind behandel het”, aangeval is.
“Ek het reguit vir hom gesê, Daantjie, wat maak jy met my en wat doen jy hier, jy is nie hier om vir my te kom kuier nie.”
Van den Berg sê sy sluit altyd haar deure, maar was gister besig om wasgoed op te hang. In die kamer het iemand haar skielik stewig van agter gegryp en haar mond toegedruk. “Ek kon geen geluid uitkry nie.”
Klein Xea du Toit (5), wat in die dag deur Van den Berg opgepas word, het onraad gemerk en kom kyk waar sy is. Die kind het toe op die aanvaller geskreeu en hy het Van den Berg gelos. Hy het met kabelbande in sy hande gestaan.
“Ek het klein Xea agter my rug ingedruk en vir hom gevra wat hy doen. Hy het dadelik gesê ek moet saam met hom kom kyk, daar is ’n tsotsi in die motorhuis wat ons wil seermaak. Hy het dit oor en oor vir my gesê.
“Daar het ’n kalmte oor my gekom en ek het met hom begin praat terwyl ek naderstap. Hy het agteruit geloop in die gang af, maar heeltyd direk in my gesig gekyk en gesê ek moet saam met hom motorhuis toe kom.”
By die kombuis het die aanvaller gedink Van den Berg gaan by die kombuisdeur uit, maar sy het gedraai en kon daarin slaag om met die kind by die voordeur uit te vlug. Sy het onmiddelik begin skreeu en die aanvaller het weggehardloop.
Shepherd Alarms was binne sekonders by haar en “vreemdelinge wat ek nog nooit gesien het nie, het hulle oor my ontferm”.
Hulle het in die motorhuis gaan kyk of daar nie wel iemand is nie, en het op die byl, skroewedraaier en kabelbande, netjies uitgepak op die werkstafel, afgekom.
Die verdagte is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem. Hy het ses maande vir Van den Berg gewerk.
Volg Nuus24 op Twitter