Vyfde matriekleerder sterf
2009-12-09 07:37
Nurene Jassiem
Kaapstad - Twee Bolandse hoërskoolleerders het gister in ’n motorongeluk gesterf toe die bakkie waarin hulle gery het op die N2 sowat 10 km buite Heidelberg teen ’n melktenkwa gebots het.
Jason Pharo (17) en Kosie Steenkamp (18) van die Hoërskool Swartland in Malmesbury was op pad na Stilbaai om te gaan vakansie hou toe die ongeluk omstreeks 11:30 in die rigting van Swellendam gebeur het.
Dit bring die getal padsterftes van leerders in die Wes-Kaap sedert 16 November sover bekend op nege te staan. Vyf van hulle was matrieks.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die bakkie na verneem word skielik uitgeswaai in die rigting van die aankomende verkeer en reg van voor teen die melktenkwa gebots.
“Dit is nog onduidelik hoekom die bestuurder uitgeswaai het, maar die bakkie het met die trefslag aan die brand geslaan en albei insittendes is onherkenbaar verkool,” het Pojie gesê.
Volgens Anzelle Smit, ’n woordvoerder van die metro-nooddienste, het paramedici die bestuurder van die melktenkwa op die toneel ondersoek en is hy ongedeerd.
Volgens Xenophone Wentzel, ’n provinsiale verkeerswoordvoerder, is die N2 in albei rigtings vir sowat ’n halfuur gesluit.
Jason was in gr. 11 en Kosie in matriek aan die Hoërskool Swartland.
Kosie was sy ouers, Neels en Henriëtte Steenkamp, se enigste kind.
“Kosie sou volgende jaar saam met sy pa gewerk het. ’n Mens berei jou nie vir só iets voor nie. Hy was op pad om saam met sy meisie te kuier in Stilbaai,” het mev. Steenkamp gisteraand bewoë gesê.
Sy en haar man het gistermiddag hul seun se lyk uitgeken en was gisteraand op pad terug na Malmesbury.
Volgens haar kan die gesin nog geen begrafnisreëlings tref totdat die nadoodse ondersoek afgehandel is nie.
Derrick Marais, hoof van die Hoërskool Swartland, het gesê hy sal Kosie altyd as ’n “fris geboude, vriendelike seun” onthou.
“Ek het hom verlede week nog geterg oor sy fris arms.
“Jason was ’n ongelooflik goeie dramaturg en dit is jammer dat hulle só jonk van ons weggeneem is. Die ongeluk het die personeel ook baie geruk,” het Marais gister gesê.
Jason se gesin kon nie vir kommentaar bereik word nie.
- Die Burger