Vyf vasgetrek met onwettige vuurwapens
2010-06-23 15:03
Oos-Kaap – Vyf mans is in Flagstaff en Lusikisiki vasgetrek nadat die polisie Woensdagoggend onwettige vuurwapens en ammunisie in hulle besit gevind het.
“Drie mans is in die Mzenge-informele nedersetting in Flagstaff vasgetrek tydens ‘n misdaadsvoorkomingsveldtog in die area. Die polisie het drie gewere en ammunisie in hulle besit gevind,” het lt. kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, gesê.
Die verdagtes sal Donderdag in Flagstaff in die landdroshof verskyn.
Nóg twee mans is sowat 15km verder in die Bodwini-nedersetting in Lusikisiki in hegtenis geneem nadat ‘n 9mm-pistool en ammunisie in hulle besit gevind is.
“Die reeksnommer was afgekrap. Ons het beide mans in hegtenis geneem omdat nie een wou erken aan wie die vuurwapen behoort nie.”
Hulle sal ook Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA