Vyf vas vir vals sigarette
2010-10-24 17:41
Johannesburg - Vyf mans is in die Mokopane-gebied in hegtenis geneem in verband met nagemaakte sigarette wat van Zambië ingevoer is, het die polisie in Limpopo gesê.
Volgens kapt. Sedotfaro Motadie is drie mans en twee winkeleienaars Saterdagaand in hegtenis geneem toe hulle die bokse by ‘n plaaslike winkel afgelaai het.
Hy het gesê die drie mans is van Zambië en die twee winkeleienaars is van Pakistan.
Die sigarette het ‘n straatwaarde van R1,1 miljoen en is in 150 bokse, met 50 kartonhouers per boks, verpak.
Die mans, wat almal tussen 28 en 32 jaar oud is, sal in die landdroshof op Mokerong verskyn en van die besit van smokkelware aangekla word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA