Vyf vas vir skietery
2010-11-15 16:28
Johannesburg – Vyf mense is Saterdag in Meloding naby Virginia in hegtenis geneem vir hul vermeende betrokkenheid by ‘n skietery wat Vrydagaand plaasgevind het, het polisie in die Vrystaat Maandag gesê.
“Hulle [polisie] het ‘n wenk gevolg wat hulle Saterdagoggend na Joe’s Tavern gelei het. Hulle het ‘n soektog geloods en een vuurwapen is gevind,” het 'n woordvoerder, ao. Malebo Khosana, gesê.
Drie van die vyf is by die taverne in hegtenis geneem.
Die polisie het ‘n beskrywing ontvang van ‘n ander man wat glo ook betrokke was.
“Die verdagte wat by die beskrywing gepas het is in die motor, ‘n Toyota Cressida gesien, wat drie huise van die taverne af in die straat geparkeer was.
“Die motor is deursoek en nog ‘n vuurwapen is daarin gevind,” het hy gesê.
Die bestuurder van die motor en nog ‘n man is in hegtenis geneem.
Die mans was tussen die ouderdomme van 17 en 26.
Twee van hulle was minderjarig, het Khosana gesê.
Een van die minderjariges is onder die toesig van ‘n ouer vrygelaat en die ander een is steeds in aanhouding, aangesien daar “niemand is om verantwoordelikheid vir hom te neem nie.”
Polisie is deur lede van die gemeenskap oor die skietery ingelig.
Die groep sal in die Virginia landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en poging tot moord.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA