Vyf vas vir onwettige kreef
2009-09-29 08:41
Johannesburg – Vyf mense is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van Weskus kreef ter waarde van R20 000, het polisie in die Wes-Kaap Dinsdag gesê.
Volgens insp. Brian Hermanus het die metropolisie se dwelmmisbruik-eenheid inligting ontvang oor mense in die Bokmakierie area wat in besit was van die kreef.
“[Polisie] het Maandag by die toneel aangekom en het toestemming by die eienaar gekry om binne te gaan. Hulle het vier mans en ‘n vrou in die motorhuis gevind wat besig was om kreef te verwerk. Een van die mans het by die agterdeur uitgehardloop toe die polisie ingekom het.”
Hulle het nie ‘n permit gehad nie en het nie genoegsame rede gehad vir hoekom hulle in besit van die kreef was nie.
Polisie het 514 heel krewe, 177 kreefkoppe en 16 sterte gekonfiskeer.
Dit is na die see-visserye geneem vir veilige bewaring.
Die mans, wat tussen die ouderdomme van 21 en 53 is, en die 30-jarige vrou, is in aanhouding.
“’n Saak van besit van Weskus kreef sonder ‘n permit is oopgemaak en word ondersoek, “ het Hermanus gesê.
- Sapa