Vyf vas na tiener se dood
2010-01-12 15:07
Johannesburg – Vyf verdagtes, insluitend ‘n 14-jarige seun, sal in Soshanguve in die landdroshof verskyn op aanklagte van moord, het die polisie Dinsdag gesê.
Dit kom nadat die lyk van Masego Kgomo (10) Vrydagaand in die bosse naby haar ouerhuis in Soshanguve gevind is.
Sy het op Oujaarsaand spoorloos verdwyn.
Volgens kapt. Julia Claassen, polisiewoordvoerder, is drie mans kort na Kgomo se verdwyning in hegtenis geneem. Die ander twee verdagtes is Sondag vasgetrek.
Hulle het in die hof verskyn en is steeds in aanhouding. Die vyf verdagtes staar aanklagte van moord en ontvoering in die gesig.
–Sapa